Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Landbou swoeg vir sege oor Napier

Boland Landbou het sy onoorwonne rekord by die Wêreld-skolerugbyfees op koers gehou toe hy na ’n harde stryd ’n tweede agtereenvolgende jaar vir Napier Boys High van Nieu-Seeland geklop het.

Die Suid-Afrikaners was met 30-25 baas.

Was dit nie vir die Napier-losskakel, Henry Williams se skopskoen wat deurlopend gelol het nie, kon die Kiwi’s moontlik vir die toernooi se eerste groot verrassing gesorg het, maar onakkurate korrelwerk het hulle gekelder.

Boeta Moolman (regs) van Boland Landbou was verwoestend teen Napier Boys High van Nieu-Seeland. Hy het twee drieë gedruk in sy span se sege. Foto: Frans Lombard

Boland Landbou het die wedstryd teen ’n blitsige tempo begin en was binne enkele minute reeds met 10-0 voor danksy twee onverdoelde drieë.

Kort daarna het die heelagter Boeta Moolman die eerste van sy twee drieë in die wedstryd gaan druk ná ’n uitstekende lopie waar hy om die verdedigers gedans het om agter die pale te kuier.

Net toe dit gelyk het of die skrif aan die muur is vir die besoekers, het Napier teruggeslaan met twee onverdoelde drieë.

Die linkervleuel Bethel Malasia en die flank Austin Soanai het albei afgerond om die telling op 10-10 te staan te bring.

Boland het sy derde gaan druk toe Moolman weer deur is, maar die Nieu-Seelanders het seker gemaak dat die wedstryd nie buite hul bereik is nie en kort voor rustyd is die buitesenter Caleb Turner oor vir sy span se derde onverdoelde drie.

Die spanne het gaan water druk met die telling op 15-15.

Ná die rustyd was dit egter die gevaarlike lopies van Boland se linkervleuel Wentzel wat Napier hoofbrekens besorg het.

Hy is ook met ’n drie beloon, voordat die plaasvervanger Tarique Pietersen ook afgerond het om sy span se voortou tot 27-15 te vergroot.

Dit het gelyk of die koeël moontlik deur die kerk is, maar Napier het in geen stadium tou opgegooi nie en soos trojane baklei.

Drieë deur die flank Rob Slabbekoorn en die skrumskakel Angus Kilmister het hulle selfs in ’n posisie geplaas om sake weer gelykop te maak, maar die losskakel Williams se skopskoen het elke keer mis gekorrel.

Boland se losskakel CJ Snyman het met ’n strafdoel kort voor die eindfluitjie geslaag en die Suid-Afrikaners moes daarna vir die laaste paar minute ’n groot aanslag afweer om eindelik die wa deur die drif te sleep.

Boland sal Saterdag teen die Amerikaanse Skolespan te staan kom, terwyl Napier die gasheer Paul Roos Gimnasium sal aandurf.

Puntemakers

Boland Landbou 30 (15): Drieë: Eugene Snyders, Boeta Moolman (2), Keanan Wentzel, Tarique Pietersen. Doelskop: CJ Snyman. Strafdoel: Snyman.

Napier Boys High 25 (15): Drieë: Bethel Malasia, Austin Soanai, Caleb Turner, Rob Slabbekoorn, Angus Kilmister.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.