Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Borg of te nie, Cravenweek ‘sál voortgaan’

Die o.18-Cravenweek-toernooi sal vanjaar voortgaan ongeag of die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ’n nuwe borg kan kry of nie.

Die toekoms van die Cravenweek en al die ander nasionale jeugweke is in onsekerheid gedompel sedert Coca-Cola hom aan die einde van 2018 as hoofborg onttrek het.

Dié weke het verlede jaar nog sonder ’n borg voortgegaan, maar gegewe die groot koste om dit aan te bied, is daar bespiegel dat dit vanjaar in die slag kon bly as ’n nuwe borg nie gevind kan word nie.

MJ Janse van Rensburg van die Blou Bulle druk ’n drie teen Grens by verlede jaar se o.18-Cravenweek-toenooi by Grey-kollege in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Netwerk24 verneem egter die 57ste weergawe van dié prestigeryke skoletoernooi sál voortgaan. Dit word vanjaar in Port Elizabeth by die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) gehou. Die Akademieweek is geskeduleer om terselfdertyd in die Baai plaas te vind.

Die o.13-Cravenweek en o.16-Grant Khomo-week is tans nog geskeduleer om by Jeppe High School for Boys in Johannesburg gehou te word.

Netwerk24 het bevestiging vanuit Saru-geledere gekry dat daar nog nie ’n plaasvervanger vir Coca-Cola gevind kon word nie, maar dat die gebrek aan ’n borg hopelik nie die o.18-toernooi vanjaar in die wiele sal ry nie.

Daar word nog met potensiële vennote onderhandel en Saru wíl graag die toernooi aanbied, het ’n ingeligte by die nasionale beheerliggaam gesê.

Rapport het in Desember berig dat Saru, glo tot die ontsteltenis van verskeie unies, geen voorsiening vir die aanbied van die Cravenweke of jeugweke, waaronder die Akademieweek, Grant Khomo-week, LSEN-week, die o.17’s se nasionale sewestoernooi, die o.16’s en o.18’s se nasionale weke vir meisies, in sy voorlopige begroting gemaak het nie.

Coca-Cola het hom in 2018, ná 34 jaar se betrokkenheid by die jeugweke, aan die toernooi onttrek met Saru wat na verwagting sowat R10 miljoen per jaar in die proses kwyt is.

Dit het hom genoop om die Cravenweek vanjaar reeds meer vaartbelyn te maak, met die Blou Bulle en die Goue Leeus se B-spanne wat in die slag gebly het. Net die Westelike Provinsie sal weer ’n A- en B-span op die veld stoot.

Dít nadat die Streeptruie se B-span in 2018 en 2019, soos sy A-span, een van die groot uitblinkers by die toernooi was.

In 2019 was daar sprake dat die koeldrankvervaardiger Twizza, wat homself onlangs diep in skolesport begin ingrawe het en veral by atletiekbyeenkomste en sewesrugby betrokke is, moontlik tot Saru en al die jeugweke se redding kon kom. Dié onderhandelinge het egter deur die mat geval.

’n Betroubare bron het aan Netwerk24 gesê dat Saru glo ’n bedrag van R12 miljoen wou hê van Twizza om die toernooie te borg. Nadat daar nie oor dié bedrag ooreengekom kon word nie, is Saru se aanbod glo tot R10 miljoen verlaag, maar die onderhandelinge was steeds nie suksesvol nie.

Die Springbokke se suksesvolle veldtog by die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan, waar hulle Engeland verlede jaar in die eindstryd met 32-12 verslaan het om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, is iets wat Saru hoop sal help om borge na vore te laat tree.

Volgens Saru se kalender vind die o.18-Cravenweek van 29 Junie tot 4 Julie plaas.

Meer oor:  Cravenweek  |  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.