Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Breiers: Kwotas g’n nodig in skole-atletiek

Daar is geen rede waarom ’n kwotastelsel in skoleatletiek nodig is in provinsiale spanne soos Noord- of Sentraal-Gauteng nie, en die nasionale senior atletiekspanne is ’n bewys hiervan.

Dít is die mening van talle afrigters en betrokkenes in skoleatletiek nadat Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (Sasa) in ’n omsendbrief geëis het dat minstens 40% van die atlete in alle distriks-, provinsiale en nasionale skolespanne nie op meriete gekies word nie, maar uit voorheen benadeelde gebiede moet kom.

Volgens Peppi Olevano, sekretaris-generaal van Sasa, het veral Noord- en Sentraal-Gauteng se spanne nie genoeg swart atlete nie, ’n stelling wat deur kenners betwis word.

’n Afrigter van Gauteng sê kwotas is nie nodig in skoleatletiek nie omdat die spanne reeds die land se demografie weerspieël. Foto: Getty Images

Wimpie Nel, ’n gerekende hekkiesafrigter wat by die Hoërskool Zwartkop in Centurion atlete brei, meen dat Sasa net ’n slag ’n distriksbyeenkoms hoef by te woon om te sien hoe vergesog die stelling is dat Gautengse spanne nie die land se demografie weerspieël nie.

“As hulle Vrydag (1 Maart) by die distriksbyeenkoms by Zwartkop was, sou hulle gesien het dat dié stelling nie water dra nie.

“Ongelukkig is hierdie hele kwessie in politiek gesetel en as swart atlete presteer, is hulle (Sasa en die regering) bly, maar dieselfde reaksie is nie daar wanneer wit atlete presteer nie,” meen Nel.

Net ’n maksimum van drie atlete in hoërskoolspanne en twee vir laerskoolspanne mag voortaan op meriete gekies word, met minstens een atleet per nommer wat uit ’n voorheen benadeelde gemeenskap moet kom.

Dié kwota-atlete sal hulself boonop nie aan die kampioenskappe se kwalifiserende vereistes hoef te steur nie.

“Dis goed dat minstens die voorste twee atlete steeds op meriete gekies gaan word, en as daar dan ’n kwota bykom, het ek nie ’n probleem daarmee nie, aangesien kwotas reeds oral in sport in Suid-Afrika toegepas word,” sê Nel.

Ongelukkig is hierdie hele kwessie in politiek gesetel en as swart atlete presteer, is hulle (Sasa en die regering) bly, maar dieselfde reaksie is nie daar wanneer wit atlete presteer nie
Wimpie Nel

Nico Erasmus, die voorsitter van Pretoria se A-bond-atletiekinterhoër, waaraan die Afrikaanse Hoër Seuns- en Meisieskool, die Hoërskole Menlopark, Zwartkop, Garsfontein, Montana, Oos-Moot en die Prestige College van Hammanskraal onlangs deelgeneem het, sê egter dat skole wat aan dié byeenkoms deelneem steeds hul beste atlete kan inskryf.

“Die A-bond kan nie aan skole voorskryf hoe hul getalle moet lyk nie, maar in Prestige College het jy reeds ’n skool met goeie swart atlete,” sê Erasmus.

“Dit (die interhoër) is ’n vrywillige byeenkoms en die staat het nie tans veel insette daarin nie.”

Hy beaam Nel se stelling dat Noord-Gauteng nie ’n kwota-stelsel op distriks- of provinsiale vlak nodig het nie.

“Prestige College wys dat wanneer jy swart atlete in goeie strukture sit, kan hulle ontwikkel en presteer. Noord-Gauteng as provinsie het geen kunsmatige regstellende aksie nodig nie, want uit Prestige College en die Tuks Sportskool kom daar reeds baie swart atlete wat goed is. Talle van die medaljewenners op die nasionale kampioenskappe gaan uit daardie twee instansies kom.”

Sasa het reeds in 1998 ’n kwota van minstens 30% gestel vir atlete uit voorheen benadeelde gebiede en dit rondom 2013 tot 40% opgeskuif.

* Die afgelope naweek is die Westelike Provinsie se hoërskolekampioenskappe in omstredenheid gehul toe die vereistes wat op ’n vergadering aan ouers en afrigters deurgegee is (waarvolgens die drie topatlete in elke nommer die WP se span sal haal) heeltemal anders was as dié wat tydens die byeenkoms aan hulle gekommunikeer is.

Groot ontevredenheid het hieroor ontstaan, met sommige atlete wat in trane gelaat is nadat hulle onder die topdrie klaargemaak het, maar hul name nie uitgelees is aan die einde van die byeenkoms nie.

In baie van die nommers is die standaarde so hoog dat daar in die laaste drie jaar geen atleet in die WP-, Suid-Westelike Distrikte- en Boland-spanne hierdie tye en afstande kon haal nie.

“Vrydagaand toe ons by die baan aankom, sien ons ’n papier op een van die ruite opgeplak met kwalifiserende kriteria – wat in sommige gevalle erger was as die nasionale vereistes,” het Riaan Muller, ’n afrigter by die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad, per e-pos aan Netwerk24 gesê.

“In baie van die nommers is die standaarde so hoog dat daar in die laaste drie jaar geen atleet in die WP-, Suid-Westelike Distrikte- en Boland-spanne hierdie tye en afstande kon haal nie.”

Deon Wertheim van WP Atletiek het Maandag aan Netwerk24 bevestig dat die spanlys intussen gewysig is volgens die oorspronklike kriteria waarvolgens die topdrie in elke nommer gekies is.

“Ons het ’n voorlopige span aangekondig ná afloop van die kampioenskappe en die reg gehad om die span teen Sondagaand te finaliseer,” het hy gesê.

Muller het gesê dat die nuwe span Maandag aan hulle gekommunikeer is.

Die laerskole se nasionale kampioenskappe word van 14 tot 16 Maart in Germiston gehou, met die hoërskole se byeenkoms wat van 21 tot 23 Maart in Port Elizabeth plaasvind.

Nie minder nie as 63% van die atlete (uitsluitend para-atlete) wat Suid-Afrika in atletiek op verlede jaar se Statebondspele in Australië se Goudkus verteenwoordig het, was atlete van kleur. Net so was 53% van die span wat na die Internasionale Assosiasie van Atletiekfederasies (IAAF) se 2017-Wêreldkampioenskappe in Londen gestuur is atlete van kleur.

* In Februarie verlede jaar is skolesport ook deur ’n kwotabom geruk.

Die Hoërskole Waterkloof, Centurion, Menlopark en Affies is toe deur Krieket Suid-Afrika (KSA) verbied om aan die nasionale T20-skoletoernooi deel te neem, omdat hulle nie minstens twee spelers van kleur in hul eerste spanne gehad het vir die Noordelikes se streekkompetisie nie.

Die Hoërskole Rustenburg, Pietersburg, Dr. EG Jansen, Nelspruit en Marais Viljoen is ook in die ander streke deur dié vereistes gekniehalter.

Dit nadat KSA voor die 2017-’18-seisoen aangekondig het dat skole wat aan dié kompetisie wil deelneem aan die vereistes moet voldoen en dat die span wat dan deurdring tot die nasionale kompetisies boonop vier spelers van kleur in hul groep van 13 moes hê, met twee wat ten alle tye op die veld moes wees.

Die Cornwall Hill College, St. Albans College, Pretoria Boys’ High en die Hoërskool Garsfontein het eindelik sake uitgespook nadat hulle aan die kwotas voldoen het.

Meer oor:  Skoleatletiek  |  Sasa  |  Kwotas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.