Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Bulle sak toe op Kaapse rugbytalent
Richard Kriel sal van aanstaande seisoen af met sy broer, David, meeding om ’n plek in die Blou Bulle se span. Foto: Gallo Images

Terwyl die Blou Bulle effens gesteier het oor die nuus dat die Springbok-heelagter Warrick Gelant sy loopbaan by die Westelike Provinsie gaan voortsit, het dié unie darem ook ’n paar houe geplant met die werwing van junior talent uit die Kaap.

David Kriel, ’n baie talentvolle speler wat gemaklik is op heelagter en senter, kom Pretoria toe wanneer sy kontrak met die WP later vanjaar verstryk.

Daarmee saam is Sebastian Lombard, ’n talentvolle vaskopstut van die Hoër Jongenskool Paarl, ook op pad Tukkies en Bulle toe.

Die WP het egter die toekomstige dienste van Corné Weilbach, wat vir Paul Roos Gimnasium speel en deur die Kaapse unie hoër as enige ander skole-vaskopstut aangeskryf word, vasgeknoop.

Daarbenewens het die Streeptruie ook al ’n paar ander talentvolle jong spelers vasgemaak, insluitend die losskakel Kade Wolhuter en losvoorspeler Keke Morabe.

Die Bulle het vroeër vandeesweek ook aangekondig dat hulle die haker Schalk Erasmus uit die Moederstad gelok het. Nóg ’n Kaapse haker, Daniel Jooste, is op sy beurt op pad Haaie toe.

David Kriel en sy broer gaan nou in Pretoria herenig word. Foto: Gallo Images

Die Haaie het ook die talentvolle Boishaai-loskopstut Abraham Reyneke oortuig om volgende jaar sy rugbyloopbaan in Durban voort te sit.

“Die goeie agente doen hul werk en vind die beste opsie vir die seuns. In Sebastian se geval wou hy ook iets spesifiek studeer en sy opsies was Maties of Tukkies,” sê Boishaai se afrigter, Peter Engledow.

Wat die senior spelers betref, is Kriel die grootste verlies. Sy broer, Richard, is ook in Pretoria, wat uiteraard ’n groot trekpleister sou wees. Die ironie is egter dat hulle mekaar straks gaan opkeil in die stryd om die nr.15-trui, waar Gio Aplon waarskynlik die man in die saal gaan wees.

In 2019 het die Kriel-broers in die provinsiale o.21-eindstryd tussen die Blou Bulle en WP teen mekaar gespeel.

Engledow meen Reyneke en Lombard het die potensiaal om dit ver te bring wanneer hulle mettertyd as stutte wasdom bereik.

Ondanks die feit dat daar tans nie rugby gespeel word nie, sê Engledow sy ervaring is dat agente druk besig is en unies nie skaam is om jong spelers te kontrakteer nie.

Selfs al trek die Boishaai-skrumanker Sebastian Lombard Pretoria toe, glo die Westelike Provinsie hulle het die voorste jong vaskopstut in die Kaap, Corné Weilbach (foto), gekontrakteer. Foto: Gallo Images

“Hulle het meer spelers geteken as wat verlede jaar die geval was. Met unies wat sien dat daar ’n provinsiale o.20-reeks gaan wees en die besef wat posgevat het dat baie spelers Suid-Afrika ná die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gaan verlaat, het hulle besluit om jong spelers te gaan soek,” sê hy.

Ondanks die staat van inperking het die Boishaai-seuns steeds ’n rugbyprogram om tuis te volg en berei hulle voor asof daar ’n interskole teen Paarl Gimnasium sal wees.

Engledow sê egter hy verwag nie dat hulle vanjaar weer rugby sal speel nie.

“Die skool se klem die afgelope week het na akademie verskuif en om die ouens gefokus te kry op hul matriekjaar. Ek dink nie ons gaan enige rugby hê nie,” sê hy.

“Dit sal baie hartseer wees vir die seuns. Baie van hulle begin van laerskool af al droom oor die interskole-wedstryd teen Paarl Gimnasium.”

Meer oor:  Paarl  |  Paarl Gimnasium  |  Peter Engledow  |  Skolerugby  |  Boishaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.