Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Carmie Prinsloo blink uit in SA landloop

Sy mag dalk eers volgende jaar in matriek wees, maar Carmie Prinsloo is een van die belowendste langasems tans in Suid-Afrikaanse atletiek.

Die gr. 11-leerling van die Hoërskool Montana het die afgelope naweek die meisies se o.17-afdeling in die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskap gewen. Sy het nagenoeg 80 teenstanders uitgestof om in die algehele eerste plek te eindig.

Die Hoërskool Montana se Carmie Prinsloo het die o.17’s se afdeling van die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskappe gewen. Foto: Cecilia van Bers

Dié atleet van Noord-Gauteng het die wenstreep oorgesteek in 13 minute 41 sekondes, met haar spanmaat en die Tuks-sportskool se Prudence Sekgodiso, wat met ’n kortkop tweede in 13 minute, 43 sekondes was. In die derde plek was Atletiek-Transkei se Aviwe Hoboloshe in 13:57.

Prinsloo en Sekgodiso het ’n goeie wedywering tussen die twee van hulle en beklee al sedert die skole se atletiekseisoen aan die begin van die jaar gereeld die eerste en tweede plekke op byeenkomste.

Sekgodiso het onder meer met die eerste plek weggestap in die 800 m op die Universiteit van Pretoria (Tuks) se Top-10-atletiekbyeenkoms vroeër vanjaar, met Prinsloo wat tweede was.

Prinsloo sou toe egter op dieselfde dag weer die 1 500 m in ’n byeenkomsrekord van 4:24.96 wen.

Sy het daarna boonop die silwermedalje gewen in die 1 500 m in die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap wat in Germiston gehou is.

Hier moes sy onder meer teen Caster Semenya meeding, wat uiteindelik gemaklik in 4:13.59 as kampioen gekroon is. Prinsloo het egter gewys wat in haar steek en in 4:29.55 die tweede plek gevat.

Prinsloo het ook verlede week koning gekraai op die Hoërskool Vorentoe se landloopbyeenkoms.

Sy was boonop ook ingesluit by die Suid-Afrikaanse span vir die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se landloop-wêreldkampioenskap wat in Aarhus, Denemarke, gehou is.

Sy was ook in April in die skolespan wat na die 2019 Jeugkampioenskappe in Ivoorkus gereis het.

Sy beklee tans boonop in 4:19.45 die agtste plek in die 1 500 m op die o.18-wêreldranglys.

In die o.16’s se afdeling het Danielle Verster van Noordwes en Potchefstroom Gimnasium geseëvier in 13:45, ’n volle 34 sekondes voor Karabo Motsoeneng van die Vrystaat, wat naasbeste in 14:19 was.

Noord-Gauteng het ook in die seuns se o.17-afdeling die pyp gerook met Kgadi Monyebodi wat gewen het.

By die o.16’s het Jason Bowers van Vereeniging Gimnasium en die Vaaldriehoek die individuele kompetisie gewen.

Meer oor:  Hoërskool Montana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.