Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Chané Oosies se blink spiesgooi-diamant

Die Hoërskool Oos-Moot in Waverley kan met reg spog oor die onvergeetlike seisoen wat die jong en belowende spiesgooier Chané van Zyl in 2018 beleef het.

Die Hoërskool Oos-Moot se spiesgooi-sensasie, Chané van Zyl, in aksie vroeër vanjaar. Foto: Verskaf
Nie net het dié 15-jarige leerling, wat in graad 10 is, op plaaslike streekbyeenkomste haar teenstanders laat les opsê nie, maar van haar hoogtepunte sluit talle podiumplekke in ouer ouderdomsgroepe in.

Sy het tydens die Suid-Afrikaanse Skole-atletiekkampioenskappe in die Paarl die spiesgooi vir dogters o.18 gewen. 

Sy het op dié byeenkoms ’n beste afstand van 48.08 m behaal om op die boonste trap van die podium te verskyn. Sy is ook deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) beloon deur gekies te word om die land te verteenwoordig op die Suider-Afrika Jeug en Junior-kampioenskappe wat in Boksburg plaasgevind het.

Volgens haar breier, Peet Steyn (75), is dié Oosie se sleutel tot sukses dat sy haar oefenprogram doelgerig volg.

“Sy is baie gemotiveerd en sy pas toe wat ek vir haar leer,” het Steyn gesê.

Sy het haar beste prestasie in Boksburg weer oortref toe sy die spies laat land het met die maatband wat tot 48.66 m gestrek het en sodoende nóg ’n goue medalje agter haar naam gevoeg.

Van Zyl was verlede jaar in November tydens die OR Tambo Spele in Germiston geïdentifiseer om in vanjaar haar slag te wys by die Driekleurspele wat in Julie in Italië gehou is. 

Dié byeenkoms het sy ontstaan gehad in 1997 om die Italiaanse vlag te vier met ’n fokus wat veral op atlete tussen die ouderdom van 13 en 17 val. Atlete van sowat 30 stede word na dié geleentheid genooi, met Gauteng wat dié jaar ingesluit is.

Nie net het sy haarself laat geld teen atlete wat ouer as sy is nie, maar Van Zyl het huiswaarts gemik met die goue medalje in die spiesgooi nadat sy ’n afstand van 47.40 m behaal het. Sy het óók ’n silwermedalje vir haar poging van 12.99 m in die gewigstoot verower.

Sy is daarna in die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) se span ingesluit wat na Algerië gereis het vir die Afrika Jeugspele waar sy wéér haar beste afstand oortref het, die keer met meer as ’n meter om die silwermedalje in die sakkie te steek met 51.13 m. 

Tydens Tuks se Top10-byeenkoms, wat in Februarie in die L.C. de Villiersstadion gehou is, het sy ook die byeenkomsrekord laat spat met ’n afstand van 44.57 m wat vir haar 1 046 punte besorg het.

Sy het goud gewen op die Noordvaal Interhoër toe sy 42.96 m gegooi het.


Meer oor:  Atletiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.