Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Cravenweek word in Oktober beslis

Nadat 2020 se Cravenweek vir o.18-spelers verlede jaar gekanselleer en vanjaar se toernooi uitgestel is vanweë die Covid-19-pandemie, is die plan nou vir dié spogtoernooi om in Oktober oplaas weer aangebied te word.

Ná meer as twee maande in die wildernis is daar ook ’n kans dat ander belangrike skolerugbywedstryde en kompetisies, waaronder die Virsekerbeker-reeks en die jaarlikse interskole tussen Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), nog kan plaasvind.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het in die jongste weergawe van die Staatskoerant haar goedkeuring vir die onmiddellike terugkeer van alle kontak- en nie-kontaksport gegee, maar hoe gaan rugby se terugkeer werk?

Skolerugby se oefensessies kan vanaf Maandag hervat met die meeste van die skole wat teen 25 Augustus weer op die veld sal kan draf vir hul eerste kragmeting sedert die laaste opskorting in Mei.

Die Suid-Afrikaanse Skolerugbyvereniging (Sasra) sê hierdie datum geld suiwer vir skole wat volgehou het met fiksheids- en kragoefeninge terwyl die seisoen uitgestel is.

Dié skole sal nou kan oorbeweeg na twee weke se kontakoefeninge, gevolg deur ’n week van gewone oefening voordat hulle weer hul plek op die veld kan inneem.

Paarl Gimnasium se CP Kleynhans op die aanval in eendeweer in hul kragmeting met Wynberg Boys’ High School in Mei. Foto: Gallo Images

Skole wat egter alle oefensessies tydens die opskorting van skolerugby gestaak het, sal eers ’n program vir die terugkeer tot spel moet volg waarvolgens twee weke se fiksheidsoefening deur twee weke se kontakoefening gevolg moet word. Hierna moet die seuns ook die verpligte week van gewone oefening voltooi voordat hulle wedstryde mag speel. Hulle sal gevolglik eers op 11 September weer teenstanders kan pak.

Noel Ingle, voorsitter van Sasra, sê die terugkeer beteken dat die o.18-Cravenweek-toernooi wel sal kan plaasvind.

Dit sal van 3 tot 9 Oktober tydens die skoolvakansie gehou en deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) geborg word. Vir die seuns sal dít as verligting kom, veral nadat ’n o.18-Suid-Afrikaanse span se toer na Georgië, wat vandeesmaand sou plaasvind, op die nippertjie gekanselleer is.

“Sasra is baie bewus dat dít ’n kritieke tyd van die jaar is vir matriekleerlinge. Die leerlinge sal tussen die rekordeksamen en eindeksamen wees en daarom is die vroegtydige besluit geneem – om verantwoordelike akademiese voorbereiding toe te laat,” het Ingle gesê.

Sasra sal ook geleenthede aan spelers gee om onder toesig saans en op afdae op akademie te fokus tydens die Cravenweek-toernooi.

Vanjaar se toernooi was oorspronklik geskeduleer om by Hoërskool Monument in Krugersdorp beslis te word, maar daar is nog nie finaal besluit of dit steeds die geval sal wees nie.

Die Grant Khomo-week vir o.16’s sal ook steeds plaasvind, maar word in twee toernooie verdeel. Dit sal nou plaasvind in die formaat van twee streeksweke, ’n kustoernooi en ’n binnelandse toernooi.

Willie Roos, rugby-organiseerder by Paarl Gimnasium, sê dié skool sal Woensdag vergader oor hoe sy oorblywende bepalings moontlik kan lyk en is hoopvol dat die gewilde interskole-stryd teen die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) kan voortgaan.

“As ons ’n wedstryd of twee kan reël, gaan ons beslis na die speelveld terugkeer. Ons is dit verskuldig aan die seuns veral nadat die Georgië-toer afgestel is,” het Roos gesê.

Paarl Gimnasium het ses seuns in dié toergroep gehad.

Neil van der Walt, bemarkingsbestuurder van Virseker, het aangedui dat die Virsekerbeker-reeks se organiseerders ook Woensdag vergader om te besluit of die reeks, wat in Mei ná die eerste ronde gestaak is, sal voortgaan.

Die Wildeklawer-toernooi vir skolerugby-en-netbal sal egter nie vanjaar gehou word nie. Die toernooi is nou geskeduleer om op 30 April 2022 weer plaas te vind.

Meer oor:  Cravenweek  |  Skolerugby  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.