Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Dané wil wêreldrekord opstel

Die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp se Dané Roets glo daaraan om klein te droom nie.

Nee, hoewel sy nou eers in matriek is, is haar visier reeds op die gewigstoot-wêreldrekord ingestel.

Die Hoërskool Noordheuwel se Dané Roets wil die beste gewigstoter in die wêreld word. Foto: Marius Nortjé

Sy is sonder twyfel een van Suid-Afrika se belowendste jong atlete en het reeds ’n bronsmedalje op die Olimpiese Jeugspele verower, en ’n goue (gewigstoot), sowel as silwer (diskus) op die Afrika Jeugspele gewen.

Maar dié Norie, wat deur Pierre Blignaut gebrei word, glo sy het nog baie plek op haar medaljerak.

“My afrigter het ’n baie bepaalde droom vir almal wat hy afrig. Sy droom vir ons almal is om die wêreldkampioen te wees en ook om die wêreldrekord te verbeter. En dit is wat my drome ook is,” het Roets gesê.

Maar voor die wêreldrekord wil sy eers op atletiek se o.20-Wêreldkampioenskap, wat vanjaar in Nairobi, Kenia gehou word, op die podium staan.

“Ek het einde verlede jaar 15,50 m gestoot en toe ’n terugslag gekry toe ek my elmboog beseer het.

“Ek wil graag kwalifiseer vir die o.20-Wêreldkampioenskap en moet minstens 16,40 m gooi om dit te kan vermag.”

Roets het geen illusie oor die taak wat op haar wag nie, maar staan nie sommer terug wanneer die uitdagings moeilik raak nie.

“Dis ’n groot afstand, maar my ingesteldheid is positief en ek glo as ek my kant bring, sal ek dit kan doen.”

Sy het Vrydag op ’n vriendskaplike byeenkoms by haar skool twee rekords verbeter en drie eerste plekke behaal om haar seisoen op koers te hou.

’n Mens sal nie verwag dat 1 kg só ’n groot verskil sal maak nie, maar die werklikheid is dat dit ’n massiewe aanpassing is, veral vir meisies.
Dané Roets

Roets het die gewigstoot met ’n afstand van 14,44 m gewen en sodoende Ancke Botha van die Hoërskool Randburg se rekord van 13,11 verbeter.

Daarna het sy ook die diskus se rekord tot 46,76 m verbeter en boonop haar veelsydigheid gewys deur die spiesgooi met ’n afstand van 31,47 m te wen.

“My gunsteling-nommer is die gewigstoot. My ma, Susan, het vir Vrystaat gewiggestoot en ek wou in haar voetspore volg.”

Voordat sy na die wêreldrekord mik, wil sy Simoné du Toit se junior rekord van 16,33 m oortref. Die rekord staan al sedert 2005.

“Ek wil die Suid-Afrikaanse rekord vanjaar verbeter, veral nadat ek verlede jaar met die 3 kg-gewigstootbal 18 m gestoot het. Ek wil met die 4 kg probeer om by 17 m uit te kom.”

Roets meen sy kan selfs op die Senior Suid-Afrikaanse Kampioenskap ’n opskudding veroorsaak as sy haar peil op koers kan hou.

“ ’n Mens sal nie verwag dat 1 kg só ’n groot verskil sal maak nie, maar die werklikheid is dat dit ’n massiewe aanpassing is, veral vir meisies. Die meerderheid val uit op 4 kg en ek wil die een wees wat vasbyt en tot ’n hoër vlak gaan,” voeg sy by.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.