Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Dis Klofies teen Garsies in eindstryd

Hoewel die kampioene eers komende naweek gekroon sal word, is dit reeds bevestig dat die Noordvaal-kriekettrofee weer staanplek in Pretoria sal kry.

Ludwig Koestner van die Hoërskool Waterkloof se eerste span hou sy valkoog op die bal teen die Hoërskool Monument in die Noordvaal-krieketreeks se halfeindstryd. Foto: Marius Nortjé

Die Hoërskool Waterkloof en die Hoërskool Garsfontein het albei in hul onderskeie halfeindstryde die pyp gerook om hul plekke in die eindstryd vas te maak.

Die Klofies, wat die verdedigende kampioene is, het min genade aan die Hoërskool Monument betoon in sy sege van ses paaltjies in die Krugersdorpers se agterplaas.

Sy regterhandse naatbouler Hardus Coetzer het deur Monnas se kolwers gehardloop en met sy syfers van 6/17 verseker dat die span van Krugersdorp skaars uit die blokke was voordat hul weer moes kleedkamer toe nadat almal uit was vir net 66 lopies.

Monnas se aanvangskolwer, Renato Di Emidio, het die beste vir sy span voor die paaltjies gevaar met sy 14 lopies, met die res van die span wat nie eens dubbelsyfers kon bereik nie.

Die Klofies het sonder te veel moeite Monnas se telling reeds in die 16de boulbeurt verbygesteek.

Albert Wells (29 nie uit nie) en Jandré Pretorius (19 nie uit nie) het die Klofies tot hul sege gestuur.

Nathan Hoffman was Monnas se beste bouler met sy twee paaltjies vir die verlies van 23 lopies.

Die Hoërskool Waterkloof se Hardus Coetzer was briljant teen die Hoërskool Monument waar hy gespog het met syfers van 6/17. Foto: Marius Nortjé

* In die ander halfeindstryd moes die Hoërskool Garsfontein heelwat harder werk om eindelik die Hoër Volkskool Potchefstroom in Pretoria met twee paaltjies te troef.

Die Volkies het eerste gaan kolf en ’n goeie totaal van 279/10 gestel.

Dit was egter tevergeefs.

Die Garsies se Christiaan Oberholzer en Robert Ferreira het met twee uitstekende kolfvertonings vorendag gekom om die Volkies se doppie te klink.

Robert het 102 lopies gemoker terwyl Christiaan se onoorwonne 114 sy span deurgesien het. Die twee het ’n vennootskap van 205 lopies tussen hulle gehad.

Reynecke Shaikh en Ruben van Niekerk het ook vertonings met die bal gelewer waarmee hulle tevrede sou voel.

Reynecke het drie paaltjies laat kantel en 34 lopies afgestaan in sy ses boulbeurte, terwyl Ruben sy toegelate tien boulbeurte met syfers van 3/50 afgesluit het.

* In die kwarteindrondes het die Klofies die Hoërskool Marais Viljoen met nege paaltjies omgedop en Garsfontein was ook oortuigend met sy wegholsege van 170 lopies oor die Hoërskool Hans Moore van Benoni.

Meer oor:  Krieket  |  Waterkloof  |  Garsfontein  |  Skolekrieket  |  Skole  |  Monument
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.