Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
‘Dissipline rede dat skolerugby pronk’

Die hoë vlak van dissipline in Suid-Afrikaanse skole is een van die redes hoekom skolerugby in dié land as die beste ter wêreld beskou word.

Dit is die mening van Marius Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie.

Hy was die afgelope week by die Wildeklawer-toernooi in Kimberley, waar van die voorste skolespanne in die land in aksie was, om hom van die beskikbare talent te vergewis.

Stravino Jacobs, vleuel van Paarl Gimnasium. Foto: Gallo Images

“Daar word beslis iets goeds op skolevlak gedoen, ons het die beste strukture in die wêreld. Maar dit gaan ook oor ons kultuur. Ons dissipline in ons skole is op ’n heelwat hoër vlak as elders in die wêreld.

“Ek dink dit is waar die ouers en skole inkom, as die ouers dissipline tuis handhaaf en ook die skole, kry jy ’n goed afgeronde mens,” sê Schoeman.

Hoewel baie van die spelers wat in Kimberley in aksie was lank reeds op talentsoekers se radar is, is daar ook spelers wat met blink vertonings die oog getref het.

Schoeman was beïndruk met spelers soos Grey se senters Ian Small-Smith en Lesley Botha, terwyl hy die eerste keer ook van die vleuel Marcell Muller se deugde bewus geraak het.

Ons dissipline in ons skole is op ’n heelwat hoër vlak as elders in die wêreld.
Marius Schoeman

Schoeman was ook nie vooraf van Garsfontein se heelagter, Zeilinga Strydom, bewus nie.

Dan het Paarl Gimnasium se regtervleuel, Curwin Gertse, wat die 100 m in 10.40 sekondes afblits, die linkervleuel, Stravino Jacobs, en die senter Ethan James ook regmerkies agter hul name gekry.

Monument se senter Henco van Wyk se samespel met sy sentermaat, Byron Wentink, en die span van Krugersdorp se vleuel Reuben Barnard en die losskakel, Herchelle Goodman, het Schoeman beïndruk.

Javier Farmer, vleuel van die Hoër Jongenskool Paarl. Foto: Gallo Images

Boishaai se vleuel Javier Farmer, Glenwood se skrumskakel, Nico Steyn, en Welkom-Gimnasium se senter Keith van Aswegen en die agtsteman, Keke Morabe, se goeie spel, om ’n paar te noem, het nie ongesiens verbygegaan nie.

Schoeman het ook spelers geïdentifiseer soos Grey se stutte Petrus Naudé en Jan-Hendrik Wessels, wat saam met Gimmies se flank Pierich Siebert en stut Gerhard van Niekerk ’n blink toekoms in vyftienmanrugby kan hê.

“Ons kan net soveel spelers kontrakteer. Iets wat ons altyd by die Akademie sê, is dat dit nie net oor sewes gaan nie, maar oor Springbok-rugby. Ons werk is om Springbok-rugby volledig te ontwikkel.

“As ons spelers sien, sal ek dadelik met die unies gesels, met wie ons ’n goeie verhouding het. Ek het gister vyf ure met Michael Horak (wat vir die Haaie se werwing verantwoordelik is) gesit en inligting uitruil,” sê Schoeman.

Met die nuwe kontrakteringsmodelle gaan heelwat minder spelers volgende jaar gekontrakteer word.

“Maar dit gaan ook goed wees, want meer ouens gaan studeer en rugby speel, wat hulle op die lang termyn gaan help. Almal se droom is om vir die Springbokke te speel, maar ses of agt jaar later kry jy dat ’n ou dit nie gemaak het nie, dan het hy niks agter sy naam nie en moet hy van vooraf begin (met ’n loopbaan).

Alle hoop is nie verlore as jy op 19 nie by ’n groot unie of instansie gekontrakteer is nie.
Marius Schoeman

“Die slegte ding is dat daar beslis spelers deur die krake gaan val. Ek dink daar gaan ’n uitvloei van spelers wees, maar hoofsaaklik dié wat in die tweede en derde ligas in Europa gaan speel. Maar dit is een van die redes hoekom jy moet raakvat met jou identifisering van spelers op skolevlak.

“Maar iemand soos Ruhan Nel (oud-Blitsbok wat tans vir die Stormers speel) is eers op 22-jarige ouderdom deur ons raakgesien. Kurt-Lee Arendse (Blitsbok), wat ek voel ’n ster gaan wees, het ons by UWK (Universiteit van Wes-Kaapland) raakgesien. Hy was vroeër deel van die WP-akademie, maar het uitgeval. Alle hoop is nie verlore as jy op 19 nie by ’n groot unie of instansie gekontrakteer is nie,” sê Schoeman.

Meer oor:  Skolerugby  |  Wildeklawer  |  Marius Schoeman  |  Skolesport  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.