Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Eldo’s baas in Afdeling 4-interhoër

Die Hoërskool Eldoraigne was in ’n klas van sy eie in Afdeling 4 op die Noordvaal se interhoër-atletiekbyeenkoms wat Woensdag in die Ruimsig-stadion gehou is.

Die Hoërskool Driehoek se Henré van Schalkwyk (regs) het net-net genoeg brandstof in die tenk gehad om die Hoërskool Eldoraigne se Keagan Hunter in die 800 m (o.17’s) te klop. Foto: Marius Nortjé

Die Eldo’s het met 35 goue medaljes gespog en hulle loshande as die beste span op die byeenkoms onderskei deur weer seker te maak dat hy in 2020 in die brons-afdeling gaan deelneem.

Net een rekord is oortref op dié byeenkoms toe die Hoërskool Ben Vorster se 4x100 m-aflosspan (o.14’s) in 47.50 sek. met die louere weggestap het en sodoende die Hoërskool Nelspruit se rekord van 47.76, wat 12 jaar gestaan het, uitgewis het.

Eldoraigne se Nicolas Vos het die beste vertoning van die dag gelewer toe hy met ’n afstand van 6,15 m die verspring (o.14’s) gewen het.

Dit het 1 152 punte op die Absa-puntetabel aan hom besorg.

Dit was een van net twee nommers op die dag waar atlete die 1 000 punte-kerf op dié tabel kon verbysteek.

Driehoek se Henré van Schalkwyk het met ’n vegtersvertoning in die 800 m (o.17’s) na vore gekom en naelskraap daarin geslaag om die Eldo’s se Keagan Hunter om die eerste plek te klop.

Van Schalkwyk het die wenstreep in 1:56.71 oorgesteek vir 1 001 punte, met Hunter ’n kortkop agter hom in 1:56.97.

Dié leerling van Driehoek het ook goud gewen in die 200 m, waar daar niks tussen hom en Eldoraigne se Rossouw Naudé te kies was nie. Albei het met ’n amptelike tyd van 22.11 geëindig en gesamentlik met die eerste plek weggestap.

Van Schalkwyk het boonop sy derde goue medalje verower toe hy in die 400 m in 50,82 sek. die pyp gerook het.

* Die Eldo’s (827) het ’n punteverskil van meer as 150 geniet tussen hulle en die Hoërskool Jeugland (670), wat tweede geëindig het.

Die Hoërskole Driehoek van Vanderbijlpark (642), Ben Vorster van Tzaneen (641), Hugenote van Springs (635), Hoër Volkskool Potchefstroom (578), Akasia (570) en Florida (524) het gevolg.

Die Jeugies sal nietemin tevrede voel nadat hy in 2019 met die vierde plek weggestap het terwyl Florida egter harde bene gekou en net soos verlede jaar in die laaste plek geëindig het.

Meer oor:  Atletiek  |  Skolesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.