Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Eldo’s se terugvegpoging kelder Montana

Tydens ’n naweek waar die bordjies in talle kragmetings verhang is, was die Hoërskool Eldoraigne se spogvertoning teen die Hoërskool Montana geen uitsondering nie.

Die Eldo’s se Groen Drake moes diep delf om ’n agterstand van 10-23 uit te wis en uiteindelik die pyp met 29-23 te rook in hul halfeindstryd van die Virsekerbeker-reeks se Plaat-afdeling.

Die Hoërskool Eldoraigne se FJ Griesel dans deur die verdediging van die Hoërskool Montana tydens die spanne se Virsekerbeker-halfeindstryd in die Plaat-afdeling. Foto: Craig Gissing

Montana, wat boaan die puntelys geëindig het ná die ligawedstryde en boonop enkele weke terug nog vir Eldoraigne met 24-21 verslaan het, sal nog lank dié vertoning berou waar basiese foute hul ondergang was.

Vir Eldoraigne was dit een om te onthou.

Hulle het vierde op die puntelys geëindig en deurgeskraap na die uitspeelrondes nadat hulle en die Hoërskool Kempton Park albei op 20 punte was. Die Eldo’s se positiewe punteverskil was toe die beslissende faktor.

Montana het ’n sterk begin tot die wedstryd gehad en nadat albei spanne se binnesenters strafdoele aangeteken het, het die Monties se Franco Stassen sy tweede deur die pale gejaag, voordat die Montie-skrumskakel, Gerhard van Niekerk, die eerste drie van die wedstryd gedruk het.

Die losskakel, Jooste Nel, het sekondes later Montana se voorsprong tot 18-3 vergroot toe hy 50 m genael het om onaangeraak te druk net voor rustyd.

Eldo’s se masjien het eers in die tweede helfte aan die gang gekom toe sy skrumskakel, FJ Griesel, sy span se eerste drie gedruk het.

Daarna het Van Niekerk sy tweede gedruk vir Montana, voordat die tuisspan die voet van die versneller afgehaal het. Hanteerfoute en swak lakwerk het sake vir die tuisspan bemoeilik, terwyl Eldoraigne hul ritme gevind het en die verdediging deurlopend bedreig het.

Die haker, Luhan Oosthuizen, het die Eldo’s binne trefafstand gebring toe hy gaan druk het, voordat Griesel se tweede sy span se neus weer voor gekry het met 24-23.

Die besoekers se binnesenter, Waldo Noeth, het die sout in die wonde gevryf toe hy gaan druk kort voordat die eindfluitjie geblaas het. Noeth het met die skopskoen boonop nege punte tot sy span se totaal bygedra.

Hulle kom in die eindstryd, wat Saterdag by die Hoërskool Marais Viljoen aangebied word, teen die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen te staan waar die Eldo’s hul titel sal probeer verdedig.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker  |  Montana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.