Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Engledow bewus van druk by Boishaai

Jy moet sterk genoeg wees om die druk van afrigting by ’n topskool se rugbyspan te hanteer, sê Peter Engledow, nuwe breier van die Hoër Jongenskool Paarl.

Peter Engledow. Foto: Argief

Boishaai het Donderdag bekend gemaak dat Engledow (46), wat tans Griekwas se Curriebeker-breier is, as die skool se nuwe hoof van rugby aangestel is in die plek van Sean Erasmus.

Erasmus, wat sedert 2014 die span gebrei het, het die span as een van die voorste spanne in die land gevestig.

Hy sluit hom op 1 November by die Goue Leeus Rugbyunie aan.

“Daar gaan baie druk saam met die pos. Sean het baie met die span bereik, maar ek is opgewonde oor die uitdaging,” sê Engledow.

“Ek wil in die eerste jaar nie te veel verander terwyl ek besig is om my voete te vind nie. Van die tweede jaar af sal ek stelselmatig my eie stempel begin afdruk.”

Engledow is in 2014 as hulpafrigter by Griekwas aangestel, voordat hy in 2016 die Curriebeker-span se leisels oorgeneem het. Hy was voor dit in diens van die Engelse Rugbyunie (RFU), waar hy vir die opleiding van afrigters verantwoordelik was.

Engledow se pos sal meer as bloot die afrigting van die eerste span behels.

“Die ontwikkeling van die ander spanne gaan ook deel van my verantwoordelikheid wees. Die eerste span kan nie suksesvol wees as die o.14- en o.15-spanne sukkel nie.

“Ek dink een van die redes hoekom ek die werk gekry het, is omdat ek ervaring het met die ontwikkeling van afrigters. Ek gaan ook die ander spanne se afrigters help om hul potensiaal te bereik,” sê Engledow.

Hy hoop om teen 22 Oktober in sy nuwe pos te begin en tyd met Erasmus te spandeer voordat hy Johannesburg toe vertrek.

Engledow sê hy sien daarna uit om saam met die huidige hulpafrigter, André Tredoux, te werk. Tredoux, wat ook vir die pos van hoofafrigter aansoek gedoen het, is in Februarie as hulpafrigter aangestel.

Engledow sê daar is nie sprake dat sy fokus nie by die res van Griekwas se Curriebeker-veldtog is nie.

“Dit is vir my, die spelers en die unie belangrik om goed te eindig.”

’n Aankondiging oor die Poubloues se nuwe afrigter sal teen die middel van September gemaak word.

Daar is die afgelope naweek onderhoude met die vier kandidate op die kortlys – Jonathan Mokuena, Pieter Bergh, Brent Janse van Rensburg en Eugene Eloff – gevoer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.