Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Fedsas sê nee vir middernag-rugbystryd

Die beplande rugbystryd tussen die Hoërskool Bekker en Hoërskool Fochville sal nou Vrydag saam met die haan se kraai afskop en nie meer Magaliesburg se stilte in die middernagtelike ure onderbreek nie.

Dit volg nadat die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) Dinsdag ’n skrywe aan albei skole gestuur het wat ’n stokkie voor die beplande afskoptyd van Vrydagoggend om 00:01 gesteek het.

Dié twee skole sal steeds aan die eerste amptelike skolerugbywedstryd deelneem sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie verlede jaar in Maart skolesport tot stilstand geruk het.

Die Hoërskool Bekker en die Hoërskool Fochville se wedstryd op 23 April se afskoptyd is van ’n minuut na middernag na 05:00 geskuif. Foto: Getty Images

Sedertdien het heelwat sportsoorte weer geleidelik begin hervat, met skolerugby wat een van die uitsonderings was.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se protokol rakende die hervatting van skolerugby het ’n plan uiteengesit waarvolgens spelers minstens ses weke suiwer aan niekontakoefeninge moes deelneem.

Op 1 April is die groen lig gegee vir skolespanne om na drie weke se kontakoefening oor te beweeg, waarna wedstryde amptelik op 23 April volstoom mag voortgaan, mits geen toeskouers toegelaat word nie. Dít nadat daar voorheen aangedui is dat skole aanvanklik al op 17 April spel sou kon hervat.

Die hoërskool Bekker en Fochville, wat al op 17 April sou swaarde kruis, het toe met die idee vorendag gekom om net ná middernag op 23 April die eerste skole te word om mekaar amptelik weer op die rugbyveld uit te daag.

Ofskoon die departement van basiese onderwys, na wat verneem word, wel toestemming vir die kragmeting gegee het, sê Fedsas die aandklokreël is steeds hier ter sprake, selfs al vind die kragmeting op ’n perseel plaas, met al die betrokke spelers en personeel wat op die skoolterrein sou oorslaap.

“Ons het in die media kennis geneem van die voorgenome rugbywedstryd tussen die twee skole, wat om middernag Vrydag gaan plaasvind,” het Fedsas luidens hul skrywe gesê.

Graag vestig ons jul aandag daarop dat die aandklokreël vanaf middernag tot 04:00 van krag is. Die oortreding hiervan kan tot tronkstraf en/of ’n boete lei.

Volgens Johan Wandrag, afrigter van Bekker se eerste span, het die skole dus besluit om die afskoptyd nou na 05:00 te skuif, met die spanne wat die dou van die gras af sal speel.

Die kragmeting sal steeds as die eerste wedstryd in vanjaar se Virsekerbeker-reeks tel, waar albei spanne in Afdeling 3 van die reeks deelneem. Dit sal die eerste kragmeting in dié reeks wees sedert 2019 se eindstryde, met die toernooi wat verlede jaar – in sy 100ste bestaansjaar – gekanselleer is.

• Die wedstryd sal steeds regstreeks deur DigiTV gestroom word en kan aanlyn met ’n koppie koffie dopgehou word.

Meer oor:  Fedsas  |  Skolerugby  |  Skolesport  |  Hoërskool Fochville  |  Hoërskool Bekker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.