Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Garsies en Jansies baljaar by Loftus

Die Hoërskool Garsfontein en die Hoërskool Dr. EG Jansen was die twee groot uitblinkers by die Afgri Prestige Rugbydag wat Saterdag by Loftus Versfeld gehou is.

Die Hoërskool Dr. EG Jansen se buitesenter Keagan Balfour was die ene gifangel in sy span se wegholoorwinning oor die Hoërskool Staatspresident C.R. Swart. Foto: Frans Lombard

Die Garsies se Bere het ’n groot waarskuwing uitgestuur vir sy teenstanders toe hy vir die Hoërskool Kempton Park met 71-5 platgevee het.

Die Garsies se skrumskakel Rowan Cloete het die kollig gevang met sy vierkuns, terwyl hy net soos nog ’n Garsie-produk, Embrose Papier, met sy vlugvoetigheid en haastige verspreiding die lewe bitter moeilik vir sy teenstanders gemaak het.

’n Kenmerk van die Garsies se Bere die afgelope paar jare is sy vaart in die agterlyn en die groep van 2020 is beslis geen uitsondering nie.

Kerneels Coertze, die bielie-buitesenter, het ook twee keer vir sy span afgerond, terwyl die losskakel Carlton Banies seker gemaak het dat die manne aan sy buitekant soos ’n goed geoliede masjien hardloop.

Nietemin het die Kempies ook veggees ten toon gestel en boonop die eerste punte van die wedstryd aangeteken toe sy slot, Chris Opperman, gedruk het.

Daarna het die damwal egter ineengestort en die Garsies hopeloos te veel skietgoed gehad met hul 12 drieë.

* Die Jansie-bom het ook gekom toe die span van Boksburg vir die Hoërskool Staatspresident C.R. Swart met 65-0 vermorsel het.

Die Jansies se heelagter Jason Edwards en sy buitesenter Keagan Balfour het albei ’n driekuns behaal, terwyl Jaden du Preez ook twee keer sy naam onder die puntemakers met drieë gekry het.

* Een van die verrassings van die dag was sonder twyfel toe die Hoërskool Kroonstad vir St. Alban’s College met 27-19 getroef het.

In ’n taai wedstryd het die Bloues se doelgerigtheid in die laaste paar minute die deurslag gegee.

Dít nadat sy losskakel Arno Swart, koel soos ’n komkommer, ’n strafdoel van sowat 45 m oorgeklits het om sy span met 22-19 die voortou te gee met enkele minute se speeltyd oor.

Die binnesenter, Tshepo Chabeli, het die uitklophou toegedien toe hy kort voor die eindfluitjie gaan druk het.

* Verder het die Kaapse spanne ook krag ten toon gestel.

Die Hoërskool Outeniqua het maalvleis van die Hoërskool Waterkloof gemaak in sy oorwinning met 38-7.

Casten Michaels was met sy driekuns sy span se grootste held.

Die Klofies se breiers sou egter heelwat te sê gehad het oor die wyse waarop die Kwaggas gate deur hulle gehardloop het.

Die span van George het meeste van die skade in die eerste helfte aangerig toe hy vyf keer gaan druk het om teen lemoentyd reeds met 31-0 voor te wees.

Waar die Klofies aansienlik beter ná die omdraaislag was, het sy swak verdediging in die eerste helfte veel te wense oorgelaat.

Paarl Gimnasium het sonder veel moeite vir Pretoria Boys High School met 38-0 getrap, maar sy breiers sal hul asem ophou nadat die spoedvraat en vleuel Curwin Gertse met ’n enkelbesering die veld moes verlaat.

Die Hoërskool Stellenberg het ook vir die Hoërskool Ellisras met 27-3 omgedop.

Meer oor:  Skolerugby  |  Paarl Gimnasium  |  Kempton Park  |  Garsfontein  |  Skolesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.