Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Gimmies lek lippe af vir Hartpury

’n Moeilike uitdaging wag op Hartpury College van Engeland wanneer hy Vrydag by die Wêreld-skolerugbyfees in Stellenbosch met Paarl Gimnasium swaarde kruis.

Gimmies het in hul eerste wedstryd die Africa Pacific Dragons met 50-24 die loef afgesteek met hul tweede span wat grootliks ingespan is vir die kragmeting.

Paarl Gimnasium se slot Wikus Janse van Rensburg loop hom in ’n muur van verdediging vas teen die Africa Pacific Dragons. Foto: Frans Lombard

Die Paarliete sal na verwagting ’n aansienlik sterker span teen die Britte op die veld stuur in ’n poging om hul onoorwonne rekord in die toernooi te handhaaf.

Dit behoort egter nie te moeilik te wees nie, aangesien Hartpury reeds teen die Hoërskool Monument van Krugersdorp slae gekry het.

Ofskoon die Britte een van die beter buitelandse spanne in die toernooi is, is hul tempo nog nie naastenby waar dit moet wees om ’n span soos Gimmies te veel probleme te besorg nie.

Veral nie met groot kanonne soos die losskakel Stephan du Toit, die vleuel Stravin Jacobs en die slot Marco van Rhyn nie, wat almal na verwagting terug in die beginspan sal wees.

Monnas sal ook uitsien na sy eerste kennismaking met John McGlashan College van Nieu-Seeland.

Die span van Dunedin is op die eerste dag met 32-17 deur Glenwood platgetrap en Monnas gaan sake nie makliker maak nie.

Die linkervleuel Luan van der Walt van die Hoërskool Monument kan hoofbrekens vir John McGlashan College van Nieu-Seeland veroorsaak. Foto: Frans Lombard

Al is die manne van Krugersdorp sonder hul inspirerende kaptein en agtsteman, Izan Esterhuizen, wat met ’n kniebesering op die kantlyn gehou word, behoort hulle steeds te veel skietgoed te hê.

Glenwood van Durban sal op sy beurt ook sy kanse gunstig ag teen die Africa Pacific Dragons.

Die Dragons het harde bene teen ’n afgewaterde Gimmie-span gekou en die Durbaniete, wat in 2017 laas die knie gebuig het, het heelwat momentum agter hulle.

As die eerste dag enige aanduiding was, kan die wedstryd tussen die South African College High School (Sacs) en die Wêreld XV-tal vir opwinding sorg.

Sacs het reeds die Zambezi Steelers van Zimbabwe met 43-24 omgedop, terwyl die Wêreld-span, wat ironies genoeg uit Suid-Afrikaanse spelers bestaan, vir die Westelike Provinsie-uitnodigingspan ’n deeglike rugbyles geleer het deur hom met 76-29 kaf te draf.

Die uitnodigingspan het wel nog net enkele ure saam geoefen en Sacs behoort steeds as die gunstelinge beskou te word.

Die WP se uitnodigingspan sal sy sokkies moet optrek indien hy ’n tweede nederlaag wil vermy.

Hy kom teen die Zimbabwiërs te staan, wat desperaat sal wees om ’n eerste sege in hul eerste jaar in die toernooi te behaal.

Vrydag se program (by Paul Roos):

10:30: WP-uitnodigingspan t. Zambezi Steelers (Zimbabwe)

12:30: Glenwood High School t. Africa Pacific Dragons

13:30: Sacs t. Wêreld XV-tal

15:00: Paarl Gimnasium t. Hartpury College (Engeland)

16:30: Monument t. John McGlashan College (Nieu-Seeland).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.