Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Glenwood werk hard vir sege oor Kiwi’s

Glenwood High School van Durban het Dinsdag die eerste hou vir Suid-Afrika uitgedeel toe hy John McGlashan College van Dunedin, Nieu-Seeland met 32-17 ore aangesit het by die Wêreld-skolerugbyfees.

Martino van Wyk van Glenwood druk Dinsdag een van sy twee drieë teen John McGlashan College van Nieu-Seeland by die Wêreld-skolerugbyfees in Stellenbosch. Foto: Frans Lombard

Die eerste wedstryd van die toernooi het reeds gewys dat die toevoeging van vier Nieu-Seelandse spanne moontlik ’n meesterskuif was aan die kant van die organiseerders, want eenrigtingverkeer was dit beslis nie.

Waar daar verlede jaar van die afskop af grootliks kuikenmoord was, het John McGlashan as een van die nuwe Kiwi-toevoegings sy man gestaan teen ’n span wat in 2017 laas die knie gebuig het.

Nadat Glenwood die haka moes aandurf en die formaliteite uit die weg gekry het, het hulle ’n aanvallende aanslag teen John McGlashan geloots, maar die Nieu-Seelanders se verdediging het sake nie so maklik gemaak nie.

Die Durbaniete het veral in die eerste helfte meeste van die speelwerk gedoen, maar hanteerfoute het hulle ritme telkens in die wiele gery.

Glenwood het eerste bloed geruik toe sy op en wakker skrumskakel, Nico Steyn, ’n los bal deurgeskop, opgepik en oorgeduik het om die eerste drie van die toernooi te druk.

’n Vleuel-juweel deur Glenwood se Katleho Thomaga het sy span se voortou vergroot nadat Steyn die bal oor die verdediging geskop het. Die blits is agterna en het die bal voor die direkte teenstander, Elias O’Kane, opgeraap en oor die doellyn gegly.

Die Kiwi’s het egter nie gaan lê nie. Na ’n goeie lopie deur die flank Tim Warman, is die slot Harrison Morton weggestuur om die buitelanders se eerste punte aan te teken.

Nie lank daarna nie het John McGlashan se agsteman Leroy Ferguson ’n kraglopie ingesit en oor die lyn gebeur om sy span se agterstand tot 15-12 te laat krimp nadat die doelskop suksesvol was.

’n Opskudding het in die stadium nie onmoontlik gelyk nie.

Maar toe tree die plaasvervanger Martino van Wyk na vore en kerf die Nieu-Seelanders se verdediging oop met ’n uitstekende lopie om af te rond. Kort daarna het Steyn die wind uit John McGlashan se seile geneem met sy tweede, voordat Van Wyk ook die sout dieper in die wonde gevryf het met sy tweede vyfpunter.

Jack Colbourne, slot van John McGlashan, het verlore aansien vir sy span herwin toe hy net voor die eindfluitjie gaan druk het.

Puntemakers:

Glenwood 32 (15): Drieë: Nico Steyn (2), Katleho Thomaga, Martino van Wyk (2). Doelskoppe: Jordan Hendrikse, Joe Jonas. Strafdoele: Jonas.

John McGlashan College 17 (5): Drieë: Harrison Morton, Leroy Ferguson, Jack Colbourne. Doelskop: Andrew McKenzie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.