Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
G’n 2de kanse in Virsekerbeker se halfeind

Die skolerugby-seisoen is nou diep in die pylvak en 12 spanne sal dit die naweek uitspook om ses plekke in die onderskeie eindstryde van die Virsekerbeker-reeks.

Douw Scheepers van die Hoërskool Monument sal Saterdag op ’n goeie wedstryd hoop wanneer sy span die derde keer vanjaar die Hoërskool Garsfontein pak. Foto: Marius Nortjé

Net vier spanne staan elk nog in die Beker-, Plaat- en Skild-afdeling, met die halfeindstryde wat Saterdag die voorlaaste hekkie is.

In Johannesburg wag ’n titaniese stryd wanneer die Helpmekaar Kollege die Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark inwag.

Die Helpies het boaan die punteleer geëindig, maar sal lugtig wees nadat hul enigste nederlaag in vanjaar se reeks teen die einste Transvalia met 20-23 gekom het.

Daarna het die Helpies egter die gety gedraai en die Hoërskool Nelspruit (24-22), die Hoër Tegniese Skool Middelburg (63-27), Dr. EG Jansen (29-10), Menlopark (32-30), Garsfontein (31-25) en Monument (27-18) getroef.

Transvalia het die reeks op ’n goeie noot begin met seges oor die Helpies, HTS Middelburg (73-24) en Monument (34-31), voordat hulle teen ’n begeesterde span van EG Jansen die spit met 24-43 afgebyt het. Hulle kon wel ook met Nellies se Rhinos met 33-19 klaarspeel, voordat hulle twee naelskraapse agtereenvolgende nederlae teen Menlopark (37-38) en Garsfontein (20-22) gely het.

In Pretoria sal die Garsies se Bere vir die derde keer vanjaar Monnas se Wit Bulle pak.

Dié twee spanne het vroeër in ’n uitspeelstryd in die Tuks-reeks ontmoet, waar Monnas baas was met 68-31, voordat die Garsies later met 49-39 die botoon gevoer het in die groepfase van die Virseker-beker.

Helpies en Transvalia het in 2017 nog sake uitgespook in die eindstryd van die afdeling vir Groot Skole, met die toernooi wat voorheen skole ingedeel het volgens hul aantal leerlinge.

Vanjaar word ’n nuwe formaat gebruik waar skole volgens sterkte ingedeel is.

Monnas en Garsies sal elk sonder een speler moet klaarkom, wat vir die Suid-Afrikaanse Skolespan diens doen. Monnas is sonder die flank Tristan Dullisear, terwyl Garsies hul skrumskakel Jurich Claassens kwyt is.

* In die Plaat-afdeling sal Eldoraigne en Marais Viljoen swaarde kruis, terwyl Noordheuwel en Kempton Park in die ander halfeindstryd slaags sal wees.

Die Eldo’s se Drake het Marais Viljoen net verlede naweek nog met 33-19 geklop, maar sal die naweek weer op hul stukke moet wees indien hulle in die eindstryd wil speel.

Die Kempies het vroeër in die reeks vir Noordheuwel met 48-33 omgedop en die Nories sal desperaat wees om die bordjies te verhang.

* Ben Vorster van Tzaneen en Oos-Moot van Pretoria sal in die Skild-afdeling die gunstelinge wees in hul halfeindstryde teen onderskeidelik die Hoërskole Middelburg en Lichtenburg.

Die Osies het twee weke gelede vir Lichies met 44-12 oorrompel, met hul enigste nederlaag in vanjaar se reeks wat in ’n opwindende kragmeting in die eerste ronde met 50-52 teen Ben Vorster gekom het.

Ben Vorster sal hoop om sy onlangse sege met 39-21 oor Middelburg te herhaal.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker  |  Helpmekaar Kollege  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.