Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Skolerugby: Grey, Gimmies bal vroeg vuis
Marco van Rhyn van Paarl Gim op die aanval word vasgevat deur Rynard Mouton en sy spanmaat van Monnas, Izan Esterhuizen. Foto: Foto: Marius Nortjé

Grey-kollege en Paarl Gimnasium het in die eerste ronde van die Noord-Suid-rugbytoernooi by die Hoërskool Garsfontein, Pretoria, hul voorneme duidelik gemaak om as die nieamptelike voorste skolespan gekroon te word.

FC Potgieter van Affies duik oor vir een van sy twee drieë teen Stellenberg. Foto: Frans Lombard

Die Vrystaters, wat in Mei 2017 laas verloor het, het met 59-28 met die Hoërskool Menlopark klaargespeel. Dít nadat hulle aanvanklik met 7-22 agter was.

Die Bloemfonteiners het egter vir die Parkies ’n belangrike les geleer wat betref die ou gesegde dat jy eers moet ophou speel as die eindfluitjie blaas – ’n kuns wat Grey lankal bemeester het.

Grey het in sy heelagter Sonwabo Sokoyi ’n spoedvraat ontgin met ’n oog vir die doellyn. Hy het nie minder nie as vier keer agter Menlopark se doellyn gaan druk.

* Paarl Gimnasium het op sy beurt die gedugte span van die Hoërskool Monument van Krugersdorp met 43-29 uitoorlê.

Albei spanne sou Sondagoggend ’n paar seer lywe hê ná dié fisieke stryd waar niemand teruggehou het nie.

Gimmies se heelagter, Tiaan Swanepoel, en die woelige skrumskakel, Dylan Alexander, was dorings in Monnas se vlees. Swanepoel het boonop 13 punte met sy stewel aangeteken.

Vir Monnas was sy kaptein en agtsteman, Izan Esterhuizen, kolossaal.

* Tiaan Botes se strafdoel in die doodsnikke het daartoe gelei dat die Helpmekaar Kollege van Johannesburg vir ’n opskudding gesorg het toe Helpies met 20-20 gelykop gespeel het teen die Hoër Jongenskool Paarl.

André-Hugo Venter van Grey-kollege op die aanval word gestuit deur Valere Mombers (16) en Lohan Potgieter van Menlopark.Foto: Marius Nortjé

Die Helpies sal verheug voel nadat hulle in 2016 in die twee spanne se laaste ontmoeting met 17-24 vasgeval het. Die Helpies het twee keer agter die doellyn van Boishaai gaan draai danksy die slot Marx Brink en die heelagter Joshua Jooste. Boishaai se enigste drie is vroeg in die wedstryd deur die bielie-agsteman Gideon van Wyk gedruk.

* Die Garsies moes sweet vir hul oorwinning van 28-24 oor die Hoërskool Outeniqua van George.

Twee geel kaarte in die tweede helfte het Outeniqua se Kwaggas se aanslag in die wiele gery met die tuisspan wat munt geslaan het en 14 punte in dié tydperk opgestapel het om ’n 14-17 agterstand te omskep in ’n voorsprong van 28-17.

Die Garsies se SA Skole-skrumskakel, Jurich Claassens, was deurslaggewend agter die oond terwyl sy buitesenter, Devoux Deysel, homself ook goed van sy taak gekwyt het en met ’n drie beloon is. Outeniqua het nooit gaan lê nie, maar het eindelik net te min skietgoed gehad.

* Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) moes hard werk om die Hoërskool Stellenberg met 28-21 te klop, maar sal wel tevrede wees met sy poging.

Keune Kirkham van Helpmekaar Kollege op die aanval maak gereed om vir Rickus Jonck van Hoër Jongenskool af te stamp.Foto: Marius Nortjé

Dit was ’n stryd van die losskakels met Affies se FC Potgieter en Stellenberg se Nivan Petersen wat albei soos generaals sake beheer het met Potgieter wat boonop twee drieë gedruk het.

* Boland Landbou het in ’n opwindende drieëfees vir die Hoërskool Waterkloof met 36-31 ondergekry.

Boland se flank en kaptein, Reinhardt Spies, is ’n yster en sy kraglopies het die Klofies hoofbrekens gegee. Die Klofie-skrumskakel Divan Roelofse sal ook fyn dopgehou moet word met sy dartellopies en oog vir ’n gaping.

* Die Hoërskool Dr. E.G. Jansen se eerste span het die Hoërskool Durbanville met 30-18 ore aangesit.

Die Jansies se haastige linkervleuel, Tylon Kotze, het die toeskouers op hul voete gehad toe hy voet in die hoek gesit het en twee keer sy naam op die telkaart gekry het. Vir Durbanville het sy haker Ronaldo Ismail beïndruk.

Meer oor:  Paarl Gimnasium  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.