Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Grey klop Garsies, Gim slag Waterkloof

Die eerste span van Grey-kollege het hul onoorwonne rekord teen die Hoërskool Garsfontein Saterdag voortgesit tydens hul 43-31-sege by die Noord/Suid-toernooi wat by die Hoërskool Menlopark gehou is.

Dis nie hoe ‘n tandarts dit sou doen nie . . . Garsfontein op die aanval in hul kragmeting met Grey-kollege.Foto: Frans Lombard

Nie eens ’n reënbui wat tydens die wedstryd uitgesak het, het die skole daarvan weerhou om aanskoulike rugby op te lewer nie.

Hoewel die nat bal op tye soos ’n koekie seep deur die hande geglip het, het Grey veral met hul vaardighede beïndruk, terwyl Garsies se Bere self nie teleurgestel het nie.

Grey het teen rustyd met 19-12 voorgeloop te danke aan drieë deur die Cheetahs-vleuel William Small-Smith se broer, Ian, Zander du Plessis en Wyclef Vlitoor, met Junior Snyman en Diego Appollis wat vir die Pretorianers agter die doellyn gaan kuier het.

’n Strafdoel deur Du Plessis en ’n drie deur Lesley Botha het Grey ná rustyd ’n gemaklike voorsprong van 29-12 gegee.

Riaan Brits en Herman Agenbag het ook vir Grey gaan druk, met Du Plessis wat met die skopskoen ’n totaal van 13 punte in die wedstryd bygedra het.

Drieë deur Jurich Claassens, ’n tweede deur Appollis en een deur Gerhard van der Merwe was nie genoeg om Garsfontein se tweede agtereenvolgende nederlaag teen die span van die Rosestad te keer nie, hoewel Garsies nooit die wit vlag gewaai het nie.

Paarl Gimnasium was in ’n verwoestende bui teen Waterkloof tydens hul sege met 57-20.Foto: Frans Lombard

Paarl Gimnasium het die toernooi onoorwonne afgesluit nadat hulle Waterkloof 57-20 met die stert tussen die bene huis toe gestuur het.

Gimmies was eenvoudig net te goed vir die Blou Tornado en het nege drieë ingeryg en só hul voorbereiding vir die Wêreld-skolerugbyfees op koers gehou.

Die Gimmie-senter Dawid Kellerman het die Klofies se verdediging gereeld laat bontstaan en ook twee keer gedruk.

Die Hoërskool Dr. EG Jansen het die Hoërskool Durbanville met 43-28 geklop nadat hulle 0-14 agter was.Foto: Frans Lombard

Nadat die Hoërskool Dr. EG Jansen vroeg met 0-14 teen die Hoërskool Durbanville agter was, het ’n uitstekende vertoning en terugvegpoging hulle met 43-28 help wen.

Die span van Boksburg was teen rustyd met 17-21 agter, maar ’n paar harde woorde deur die afrigters het ’n duidelike verskil gemaak, met die Jansies wat vier drieë in die tweede helfte ingeryg en net een afgestaan het.

Dit was veral die uitstekende vertoning deur die Jansies se slot Darren Timmers, tesame met ’n oomblik van briljantheid deur die kookwater-senter Dylan Schwartz, wat die span deurgesien het.

Die Hoërskool Monument het die Hoërskool Stellenberg met 41-19 kafgedraf. Foto: Frans Lombard

Dit het ook ’n terugvegpoging van die Hoërskool Monument geverg om die Hoërskool Stellenberg met 41-19 kaf te draf.

Monnas se Wit Bulle moes ’n agterstand van 0-13 uitwis om halftyd met 12-13 ’n kortkop agter te wees.

Die span van Krugersdorp het in die tweede helfte soos ’n eenheid gelyk en makliker die gapings gevind. Ná rustyd het Monnas vier keer die doellyn oorgesteek en só die span van Bellville se doppie geklink.

Die vertonings van Morné Brandon en Franco Schutte vir die wenspan het veral die oog gevang, terwyl Stellenberg se stut Josh Muller se kraglopies die verdediging besig gehou het.

Die Hoërskool Menlopark se skrumskakel, Bernard van der Linde, het sy skool van rooi gesigte gespaar met ’n wegbreek net voor die eindfluitjie, wat hy self verdoel het om sy span met 20-19 teen die Hoërskool Outeniqua deur te sien.

Die Kwaggas het gelyk of hulle die gasheer se partytjie sou bederf nadat hulle vir die grootste deel van die wedstryd voorgeloop het en goed herstel het ná hul nederlaag teen Garsies op die eerste dag. Hul pogings was egter net-net nie genoeg nie.

Meer oor:  Skolerugby  |  Menlopark  |  Grey-Kollege  |  Monument
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.