Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Grey, Paul Roos stoomroller oor Kiwi's

Die Suid-Afrikaanse spanne het Woensdag in Stellenbosch hul oorhand oor die Nieu-Seelanders voortgesit met Grey-kollege en Paul Roos Gimnasium wat groot slagtings uitgedeel het op die tweede dag van die Wêreld-skolerugbyfees.

Die Nieu-Seelandse skolekrag, Christchurch Boys High School, het hulle wéér in ’n ongenadige Grey-kollege vasgeloop.

Marcell Muller van Grey-kollege was ’n doring in die vlees van Christchurch Boys High se verdediging. Foto: Frans Lombard

Die Vrystaters het die Kiwi’s met 73-26 vermorsel in ’n vertoning waarvan die res van die wêreld weer sou kennis neem.

Dit was groter as die pak slae met 66-28 wat Christchurch Boys High, wat al 46 All Blacks opgelewer het, in 2018 teen Grey gekry het.

Sake het vroeg al lelik vir die besoekers skeefgeloop met Grey wat ná ’n blitsaanval binne die eerste 10 minute met 21-0 voor was.

Die Vrystaters het op geen stadium die voet van die versneller afgehaal nie en Franco Knoetze en Marcell Muller het albei twee keer gaan druk.

Grey verdien ook ’n klop op die skouer vir die mooi gebaar toe hy ’n oomblik van stilte vir die seuns van Christchurch gehou het.

Grey het ’n gedenkplaat aan die Nieu-Seelanders oorhandig ter herinnering aan die onlangse tragedie waarin 50 mense in dié stad hul lewe in ’n terreuraanval verloor het.

Die heelagter van Paul Roos Gimnasium, Cade Croy druk een van sy span se 15 drieë teen Southland Boys High School van Nieu-Seeland. Foto: Frans Lombard

* Die gasheer Paul Roos Gimnasium, wat sy buiging in dié toernooi maak, het in sy eerste amptelike kragmeting van die jaar Southland Boys High van Invercargill, Nieu-Seeland met 93-5 geslag.

Die Stellenbossers het geen probleem gehad om die roes af te skud nie en teen rustyd reeds met ’n 45-0 voorsprong gespog teen ’n Kiwi-span wat aan bomskok gely het.

Andrew Pegg, Meiring Ebersohn, Ruben Labuschagne en Tiaan Pretorius het almal twee keer gedruk vir die Maroen Masjien.

Allan Gillies het Southland se enigste drie gedruk met die besoekers wat eenvoudig geen weerstand gebied het nie.

Southland sal reeds huis toe begin verlang voordat hy Saterdag vir Grey pak.

Paul Roos sal volgende met Napier Boys High swaarde kruis.

* Boland Landbou het sy onoorwonne rekord op koers gehou toe hy na ’n naelbytstryd vir Napier Boys High van Nieu-Seeland met 30-25 geklop het.

Was dit nie vir die Napier-losskakel, Henry Williams se skopskoen wat deurlopend gelol het nie, kon die Kiwi’s moontlik vir die toernooi se eerste groot verrassing gesorg het, maar onakkurate korrelwerk het hulle gekelder.

Boeta Moolman het twee keer vir die span net buite die Paarl gaan druk.

Affies se driekuns-held Adolph Visser het ‘n barshou teen die Italian All-Stars gespeel. Foto: Frans Lombard

* Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria met 36-12 klaargespeel met die Italian All-Stars.

Affies, wat meeste van hul gereëlde eerstespanspelers ’n blaaskans gegun het, het sonder veel moeite die oorhand gehad met sy flank Adolph Visser wat ’n breker-vertoning uitgedis het en ’n driekuns aan drieë behaal het.

Hulle pak volgende vir Christchurch Boys High.

* Hilton College het die Suid-Afrikaners se oorheersing voortgesit en die Amerikaanse Skolespan met 43-0 kaf gedraf.

Twee geelkaarte vir gevaarlike duikslae kort na mekaar in die tweede helfte het die Yanks ook geen gunsies gedoen nie en dis juis waar Hilton munt geslaan het.

Puntemakers

Grey-kollege 73 (35): Drieë: Jan-Hendrik Wessels, Franco Knoetze (2), JD Odendal, Ricardo Fourie, André-Hugo Venter, Danwich Beukes, Marcell Muller (2), Tiaan Fourie, Tiaan Jonker. Doelskoppe: FC du Plessis (6), Franco Knoetze (3). Christchurch Boys High 26 (14): Drieë: Sairusi Samuelu, Jake Whalley, Ryan Sheehan, Josh Jennings. Doelskop: Ollie Lewis (3).

Paul Roos Gimnasium 93 (45): Drieë: Cade Croy, Andrew Pegg (2), Meiring Ebersohn (2), Ruben Labuschagne (2), Luke Burger, Tiaan Pretorius (2), Caluym Louis, Jarrod Cairns, Kade Wolhuter, Dylan de Leeuw, Rohnan Daniels. Doelskoppe: Kade Wolhuter (5), Chris Blommenstein (4). Southland Boys High 5 (0): Drie: Allan Gillies.

Boland Landbou 30 (15): Drieë: Eugene Snyders, Boeta Moolman (2), Keanan Wentzel, Tarique Pietersen. Doelskop: CJ Snyman. Strafdoel: Snyman. Napier Boys High 25 (15): Drieë: Bethel Malasia, Austin Soanai, Caleb Turner, Rob Slabbekoorn, Angus Kilmister.

Affies 36 (31): Drieë: Keegan Potgieter, Adolph Visser (3), Kyle Liebenberg, Ruben Barkhuizen. Doelskoppe: Nico Muller (3). Italian All-Stars 12 (0): Drieë: Valerio Bizzotto, Giovanni Montemauri. Doelskoppe: Montemauri.

Hilton 43 (12): Drieë: André Nitzsche, Mark Armstrong, James Harvey, Kyle Steenberg, Joshua Cox (2), Tanaka Matsa. Doelskoppe: Ruan Wilmans (2), Michael Booth (2). VSA-skolespan 0 (0).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.