Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Grey sal Wessel ‘ruimte’ gee om te besluit

Grey-kollege sal die afrigter van sy eerste rugbyspan, Wessel du Plessis, “ruimte” gee om te besluit of hy hom by die Blou Bulle gaan aansluit.

So sê Bobby Joubert, dié skool se direkteur van rugby, nadat die naweek berig is dat Du Plessis hom straks by die Blou Bulle gaan aansluit om beheer van dié unie se juniors te neem.

Wessel du Plessis, afrigter van Grey-kollege se eerste rugbyspan. Foto: Mlungisi Louw

“Ons respekteer hom om sy besluit te neem en gun hom ook die ruimte om daardie besluit te neem, omdat hy waardevol vir Grey is,” sê Joubert.

Dit sal ’n gevoelige slag vir Grey wees as die 35-jarige Du Plessis wel besluit om Pretoria sy nuwe tuiste te maak. Onder sy leiding is Grey die laaste jare as die voorste skolespan in die land gevestig.

Sedert hy in 2014 die eerste span begin afrig het, was Grey in 89 van die 100 wedstryde aan die wenkant, het slegs agt keer verloor, met drie kragmetings wat gelykop was, volgens schoolofrugby.co.za.

As die pos wel vakant raak, sal dit interessant wees om te sien wie die leisels neem – met Joubert straks ’n sterk kandidaat.

Joubert het Griekwas en SWD in sy speeldae as senter en heelagter verteenwoordig en is ook ’n oudleerling en vertroud met dié tradisieryke skool.

Hy was ’n lid van Vrystaat se afrigtingspan in 2019 se Cravenweek-toernooi.

Ander name wat straks in die hoed kan beland, is dié van die huidige hulpafrigters, Tewis de Bruyn en Wian du Preez, wat ook albei oudleerlinge van Grey is en in hul speeldae vir onder meer die Cheetahs uitgedraf het.

Du Bruyn was ’n skrumskakel, terwyl Du Preez, ’n stut, in een toets vir die Springbokke gespeel het.

Nog ’n naam wat kan opduik, is dié van die voormalige Bok-haker Tiaan Liebenberg. Hy is betrokke by Grey se juniors en is ook ’n hulpafrigter van die Ixias nadat hy voorheen die studente se hoofafrigter was.

Dit sal nie die eerste keer in onlangse jare wees dat ’n skole-afrigter se vertoonlys hom ’n pos by ’n unie besorg nie.

Sean Erasmus is in 2018 by die Goue Leeus aangestel nadat hy ongekende hoogtes met die Hoër Jongenskool Paarl bereik het.

Dié skool en Grey is waarskynlik die suksesvolste skolespanne in die afgelope dekade.

Meer oor:  Wessel Du Plessis  |  Grey-Kollege  |  Skolerugby  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.