Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Grey sorg vir smaakvolle dis in groot sege

Grey Kollege se resep van vinnige voete, flink hanteerwerk, goeie hardlooplyne en die aanwend van die volle breedte van die veld, het Saterdagmiddag vir ’n smaaklike dis gesorg in sy sege oor Paul Roos Gimnasium (PRG).

Grey het dié hoogs vermaaklike interskole-kragmeting in Stellenbosch oortuigend met 51-28 gewen. Hulle het nege drieë gedruk en kon met nog 15 punte gewen het as sy stelskoppers nie met sewe (meestal moeilike) pogings misluk het nie.

Grey het daarmee ’n tweede seisoen agtereenvolgens onoorwonne afgesluit.

Grey-kollege se Marcell Muller dra die bal. Foto: Gallo Images

Teen rustyd het PRG nog stewig gestaan en was met ’n enkele punt agter (21-22), maar Grey het in die tweede helfte losgetrek met die een aanval ná die ander wat op ’n paar pragdrieë uitgeloop het. Hier teen die einde het die Stellenbosse seuns se koppe gehang.

Grey het die hele seisoen, en Saterdag weer, met groot selfvertroue en reëlmaat sy gevaarlike agterlyn in spel gebring. Veral sy linkervleuel, Marcell Muller, is telkens met groot vrug ingespan. Hy het bykans elke keer óf ’n verdediger geklop óf ’n spul veld met sy sterk lopies gewen. Sy twee drieë, albei vroeg in die helftes, het sy totaal vir die seisoen tot 19 gerek. Dis moeilik om te glo hoe hy nie eens sy provinsie se Cravenweekspan kon haal nie.

Grey se losskakel, FC du Plessis, het waarskynlik sy tweestryd teen Kade Wolhuter gewen, dalk hoofsaaklik danksy die baie balbesit waarmee hy op loop kon gaan.

PRG moes die meeste van die keerwerk doen en het dalk te veel vertroue in sy voorspelers gestel om veld te probeer wen.

Ofskoon die aanval sag op die oog was, was minstens vier van die dag se 13 drieë gevalle waar die driedrukker verspot maklik deur ’n verdediger se arms gebars het op pad doellyn toe.

Só het Franco Knoetze, Grey se heelagter, teen die einde van die eerste helfte 90 m in ’n teenaanval gehardloop sonder dat ’n hand op hom gelê is voordat hy die doellyn oorgesteek het.

Grey moes die wedstryd aandurf sonder vyf spelers wat vir die twee nasionale skolespanne in Wellington betrokke was. PRG was sonder drie van hul spelers.

Puntemakers:

Grey-kollege: Drieë: Marcell Muller (2), JD Odendal, Deon le Roux, Franco Knoetze, Duan Ludik, Ian Small-Smith, FC du Plessis, Tiaan Fourie. Doelskoppe: FC du Plessis (2), Franco Knoetze.

Paul Roos: Drie: Ruben Labuschagne, André Smit, Jordan Venter, Cade Croy. Doelskoppe: Kade Wolhuter (4).

Meer oor:  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.