Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Grey-stut wat vleuel inhaal ‘keerpunt’

’n Voorryman van Grey-kollege se rugbyspan wat ’n vleuel van Paul Roos Gimnasium inhardloop en platvee met die grond was die keerpunt in die twee spanne se kragmeting Saterdag in Stellenbosch.

So sê Tewis de Bruyn, hulpafrigter van Grey, nadat die Bloemfonteiners Paul Roos met 51-28 pak gegee het om sodoende die seisoen onoorwonne af te sluit.

Franco Knoetze, heelagter van Grey-kollege, duik oor vir sy drie. Foto: Gallo Images

Sekondes voordat die fluitjie vir rustyd geblaas het, het die tuisspan se vleuel Andrew Pegg teen die kantlyn afgesuiker op pad doellyn toe. Hy is egter deur Tielman Nieuwoudt, ’n stut, ingehaal en platgetrek, meters van Grey se doellyn. Die bal het vorentoe gespat en die besoekers se heelagter, Franco Knoetze, het die bal opgepik en afgesit doellyn toe. En nee, hy is nie gevang nie en het oorgeduik, om die besoekers teen rustyd met 22-21 te laat voorloop.

“Die draaipunt was beslis daardie duikslag van Tielman en ek dink Paul Roos was daarna geknak.

“Daardie duikslag is uit en uit waaroor Grey-durf gaan. Dit is in minder as ’n minuut opgesom, dit gaan daaroor om van moegheid te vergeet en net aan te gaan,” sê De Bruyn.

Grey was eerste op die telbord toe die vleuel Marcell Muller, wat met sy kragtige lopies beïndruk het, sy eerste van twee drieë gedruk het. Einste Nieuwoudt het homself egter kort daarna ’n geel kaart op die lyf geloop vir ’n ontoelaatbare duikslag. In die tyd wat hy van die veld was, het Paul Roos twee drieë gedruk om die voortou te neem met 14-5.

Andrew Pegg, vleuel van Paul Roos Gimnasium, het Saterdag agtergekom dat daar ’n stut van die Rosestad is wat vinniger as hy kan hardloop. Foto: Gallo Images

Maar Nieuwoudt het met daardie duikslag vergoed vir sy tyd in die koelkas. Veral in die tweede helfte het Grey die bal deur die hande laat gaan, met Paul Roos wat nie al die gate kon toestop nie.

“Ek en Wessel (Du Plessis, hoofafrigter van Grey) het met rustyd aan die ouens gesê dat hulle wyd moet speel. Hul (Paul Roos) agterlyn het almal opgegaan wanneer hulle verdedig het en daar was geleenthede op die punte,” sê De Bruyn.

Grey se spelers het geluister en in daardie laaste 35 minute die veld vol gehardloop.

Ryno Combrinck, Paul Roos se hoof van rugby, sê die Bloemfonteiners verdien krediet vir hul vertoning.

“ ’n Ou moet begin om Grey te komplimenteer. Dit sou goed gewees het as ons rustyd met ’n voorsprong kon ingaan.

“Ons moes baie vroeg in die wedstryd van ons plaasvervangers (nadat die flank Arno Heenop en die stut Corné Weilbach beseer is) gebruik maak. Hulle het net kort tevore nog vir die tweede span gespeel,” sê Combrinck.

Puntemakers:

Grey-kollege 51 (28): Drieë: Marcell Muller (2), JD Odendal, Deon le Roux, Franco Knoetze, Duan Ludik, Ian Small-Smith, FC du Plessis, Tiaan Fourie. Doelskoppe: Du Plessis (2), Franco Knoetze.

Paul Roos 28 (21): Drie: Ruben Labuschagne, André Smit, Jordan Venter, Cade Croy. Doelskoppe: Kade Wolhuter (4).

Meer oor:  Skolerugby  |  Paul Roos Gimnasium  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.