Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Paul Roos in ál 24 wedstryde verslaan
Grey uit die woestyn ná 7 maer jare

Dit was sewe maer jare, maar Grey-kollege van Bloemfontein is vandag weer die voorste skolespan in Suid-Afrika. Grey kon laas in 2011 daarin slaag om sy seisoen onoorwonne af te sluit.

Grey-kollege maak kringetjie ná ’n dag vol vreugde teen Paul Roos.Foto: mlungisi louw
Monnas se Wit Bulle het ook ’n dag gehad om te koester.Foto: frans lombard

Grey se eerste span het op sy tuisveld in die Rosestad vir Paul Roos Gimnasium met 28-26 verslaan. Albei spanne het die wedstryd met hul onoorwonne statusse nog in plek betree.

Soos verwag het die wedstryd – wat sou bepaal wie 2018 as Suid-Afrika se voorste skolespan afsluit – die intensiteit van ’n Wêreldbeker-eindstryd gehad.

Die tuisskare se stemme was boonop teen daardie tyd al goed geolie, met Grey baas in elke enkele wedstryd wat die wedstryd voorafgegaan het. Nadat die Bloemfonteiners se eerste span ook vasgebyt het vir hul naelskraapse sege, het Grey skoonskip gemaak en ál 24 wedstryde van die dag gewen.

Die kragmeting van die eerste spanne was ’n wipplankstryd waarin die voortou gereeld van hande verwissel het. Paul Roos het die eerste helfte net-net beter afgesluit, met ’n rustyd-voorsprong van 12-11, danksy hul losskakel, Kade Wolhuter, se skopskoen en die wind in hul blaaie.

Dit kon ’n voorsprong van 12-6 gewees het, maar Grey se agtsteman, Werner Gouws, het kort voor rustyd vir die eerste drie van die kragmeting oorgeval.

Grey het die aanslag vanuit die Eikestad in die eerste helfte meestal danksy inklimspel deur die loskopstut, Jan-Hendrik Wessels, afgeweer.

Grey se skakelpaar, Ross Braude en Zander du Plessis, verdien ook lof vir hul vertoning. Vir Paul Roos het sy voorrymanne, Mink Scharink en Robbie Rodgers, asook Wolhuter, beïndruk.

Dié Wit Bulle is stoetbulle

Daar kan vandag geen twyfel bestaan dat Monument van Krugersdorp die voorste rugbyspan noord van die Vaalrivier is nie. Monnas se Wit Bulle het Helpmekaar-kollege met 57-11 in die eindstryd van die Virsekerbeker in die LC de Villiers-stadion verslaan om sy titel as kampioen van die reeks te behou.

Helpies het twee weke gelede die einste Monnas met 30-15 geklop, maar gister was daar slegs een span op die veld. Die span van Krugersdorp het voorlangs die botoon gevoer met veral die agtsteman Izan Esterhuizen, kaptein en haker, Morné Brandon, en die loskopstut, Brendan Pawson, wat ingeklim het.

Agterlangs het die senterpaar, Douw Scheepers en Henco van Wyk, met hope balbesit baljaar.

Vir Helpies het sy twee slotte, Michael Amiras en Brink Marx, nooit moed opgegee nie.

Oos-Moot het vir die eerste keer sedert 1982 daarin geslaag om as kampioen van een van die Virsekerbeker se ligas gekroon te word. Die Pretorianers het Ben Vorster van Tzaneen met 29-20 in die eindstryd van die Skild-afdeling verslaan.

Oos-Moot was in 1982 die eerste houer van die Direkteurstrofee (die voorganger van die Beeldtrofee en Virsekerbeker).

Kobus Vorster, die huidige span se afrigter, was in 1982 in daardie kampioenspan.

Net om sy dag nog soeter te maak, is sy seun, die skrumskakel, Marco, aangewys as Speler van die Wedstryd.

Oos-Moot se haker, Jason Swanevelder, was ook op sy stukke. Vossies se heelagter, Jason Mulder, was sy beste speler.

Boland Landbou het die beste vir laaste gelos en sy grootste sege tot nog toe oor Oakdale Landbou behaal in hul jaarlikse interskole in die Agter-Paarl.

Boland Landbou was met 56-19 baas.

Boland Landbou se buitesenter, Sebastian de Klerk, en linkervleuel, Bertus Baard, het albei twee keer agter die doellyn gaan kuier.

Dit gaan keer kos om Welkom-Gimnasium van die titel as kampioen van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga te weerhou. Gimmies het Louis Botha met 61-0 in die halfeindronde van die kompetisie oorrompel.

Die span van Welkom sal volgende week in die eindstryd van die liga teen Duineveld van Upington te staan kom. Die Velties het in die ander halfeindstryd vir Sentraal van Bloemfontein met 39-36 verslaan.

In die nuwe Wesgrow Sentrale-reeks sal Diamantveld en Goudveld-Hoërskool mekaar volgende week pak om te bepaal wie die eerste houer van die trofee sal wees.

Diamonds het op dramatiese wyse sy aartsvyand, Noord-Kaap, met 6-5 in hul halfeindstryd verslaan. In die ander halfeindstryd was Goudveld met 33-14 te sterk vir Witteberg van Bethlehem.

Meer oor:  Paul Roos Gimnasium  |  Seisoen  |  Grey-Kollege
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.