Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Grey vermorsel Christchurch Boys High

Die Nieu-Seelandse skolerugbykrag Christchurch Boys High School het hulle Woensdag wéér in ’n ongenadige Grey-kollege vasgeloop op die tweede dag van die Wêreld-skolerugbyfees wat by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch gehou word.

Die Vrystaters het die Kiwi’s met 73-26 vermorsel in ’n vertoning waarvan die res van die wêreld weer sou kennis neem.

Marcell Muller van Grey-kollege storm doellyn toe vir een van sy twee drieë teen Christchurch Boys High School van Nieu-Seeland. Foto: Frans Lombard

Dit was groter as die pak slae met 66-28 wat Christchurch Boys High, wat al 46 All Blacks opgelewer het, in 2018 teen Grey gekry het.

Sake het vroeg al lelik vir die besoekers skeefgeloop met Grey wat ná ’n blitskrieg binne die eerste 10 minute met 21-0 voor was. Die loskopstut Jan-Hendrik Wessels het gaan druk en die linkervleuel Franco Knoetze was sommer twee keer agter die doellyn.

Christchurch het teruggeslaan met ’n drie deur die buitesenter Sairusi Samuelu.

Kort daarna het die Nieu-Seelanders weer die tellinghouers gepla toe die linkervleuel Jake Whalley teen die verloop van spel gaan druk het nadat hy die bal onderskep het. Hy het sowat 30 m genael om die telling 21-14 te maak.

JD Odendal, Grey se buitesenter, het egter dadelik vir Whalley nagedoen en ook ’n swak aangee onderskep om Grey se voorsprong tot 28-14 te rek, voordat die plaasvervanger-haker Ricardo Fourie ook agter die doellyn gaan kuier het. Grey was met die rustyd reeds met 35-14 in beheer.

Die Grey-stoomroller is in die tweede helfte voortgesit met die haker André-Hugo Venter en die slot Danwich Beukes wat ná vyfpunters die Vrystaters se telling tot 45-14 laat groei het.

Die plaasvervangers Marcell Muller (2), Tiaan Fourie en die agtsteman Tiaan Jonker het die telbord aan die rol gehou en daarmee het Grey gewys dat hy steeds die toonaangewende skolespan in wêreldrugby is.

Grey verdien ook ’n klop op die skouer vir die mooi gebaar toe hy ’n oomblik van stilte vir die seuns van Christchurch gehou het en ’n gedenkplaat aan die Nieu-Seelanders oorhandig het ter herinnering aan die onlangse tragedie waar 50 mense in dié stad hul lewe in ’n terreuraanval verloor het.

Cyrille Cama, reusagtige agt steman van die Amerikaanse skolespan en ’n gebore Fidjiaan, loods ’n stormlopie teen Hilton College. Foto: Frans Lombard

* Die Suid-Afrikaners het hul oorheersing voort gesit toe Hilton College van KwaZulu-Natal die Amerikaanse Skolespan met 43-0 kaf gedraf het.

Hilton het ’n voorsprong met 12-0 met die rustyd geniet ná ’n goeie begin waar die haker André Nitzsche en die agtsteman Mark Armstrong gaan druk het.

Die Amerikaners het feitlik geen balbesit gehad nie en kon niks uitrig met die bietjie wat hulle gekry het nie.

Nadat Hilton hul voorsprong tot 22-0 vergroot het met die flank James Harvey en die plaasvervanger Kyle Steenberg wat gaan druk het, het die Yanks se dissipline by die venster uitgevlieg en het hul frustrasie oorgeneem.

Eers is die haker Reece Guidry met ’n geelkaart gestraf vir ’n gevaarlike duikslag. Hy was skaars van die veld af toe die slot Quinn Sheppard ook koelkas toe gestuur is vir ’n onwettige duikslag. Sheppard veral kan hom gelukkig ag dat hy nie die rooie gewys is nie.

Hilton het dadelik munt hieruit geslaan toe die linkervleuel Joshua Cox met een van sy dartellopies vorendag gekom het en gaan druk het om dit 29-0 te maak.

Tanaka Matsa, die regtervleuel, het die sout verder in die wonde gevryf toe hy gaan druk het met Cox wat sy tweede kort voor die eindfluitjie geplant het.

Dit was veral die vertoning van Hilton se losskakel Ruan Wilmans wat beïndruk het.

Hy het soos ’n ware generaal sake beheer en sy skoppe het die Amerikaners gereeld onder groot druk geplaas.

Aan die kant van die VSA-skolespan het die groot agtsteman en gebore Fidjiaan Cyrille Cama ook ’n paar kraglopies ingekry en een of twee KwaZulu-Natallers gaan beslis Donderdag opstaan met ’n seer lyf nadat hulle deur dié bus getref is.

Puntemakers

Grey-kollege 73 (35): Drieë: Jan-Hendrik Wessels, Franco Knoetze (2), JD Odendal, Ricardo Fourie, André-Hugo Venter, Danwich Beukes, Marcell Muller (2), Tiaan Fourie, Tiaan Jonker. Doelskoppe: FC du Plessis (6), Franco Knoetze (3). Christchurch Boys High 26 (14): Drieë: Sairusi Samuelu, Jake Whalley, Ryan Sheehan, Josh Jennings. Doelskop: Ollie Lewis (3).

Hilton 43 (12): Drieë: André Nitzsche, Mark Armstrong, James Harvey, Kyle Steenberg, Joshua Cox (2), Tanaka Matsa. Doelskoppe: Ruan Wilmans (2), Michael Booth (2).

VSA-skolespan 0 (0).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.