Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Grey wys weer waarom hy rugby-koning is

Grey-kollege se rugbyspan het met ’n afgeronde vertoning Saterdag in Kimberley gewys dat hy onbetwisbaar die beste skolespan in die land is.

Danwich Beukes, slot van Grey-kollege, op die aanval. Foto: Jorina Raath

Die Bloemfonteiners het Paarl Gimnasium in ’n spannende kragmeting met 47-33 in die Wildeklawer-toernooi geklop.

Naelbytrugby was dit beslis, met die twee spanne wat mekaar opgeweeg en gemeet het en in die proses spel opgedis het wat ’n advertensie vir rugby op dié vlak is.

Grey het gewen omdat sy ondersteunende spel uit die boonste rakke was. Wanneer ’n speler grond toe gegaan het, was daar elke keer ’n spanmaat met ondersteuning byderhand.

Teen rustyd was Grey met 26-12 voor, maar kort ná die omdraaislag het Gimmies se skrumskakel, Dylan Alexander, eers skitterend gebreek, voordat hy onder die pale gaan druk het.

Maar die slag was al klaar gelewer, en toe Grey se stut Jan-Hendrik Wessels kort daarna oorgeduik het, het die grappies van Gimmies se ondersteuners in die paviljoene opgedroog.

Behalwe vir Wessels wat die oog getref het, maar homself ongelukkig laat in die wedstryd ook ’n geel kaart op die lyf geloop het, het die senter Ian Small-Smith gewys dat hy oor vaart en ’n rugbybrein soos min beskik. Ook die heelagter Nabo Sokoyi het gewys dat hy goeie teenaanvalle kan begin en veilig onder die hoë bal is.

Gimmies, wat teen die einde verbete teruggeveg het, se vleuel Stravino Jacobs het meer as een keer ’n Bloemfonteiner in die lug laat gryp.

Outeniqua het die Suid-Kaap se spreekwoordelike vlag laat wapper deur agt drieë in te ryg om Noord-Kaap met 50-7 te verneder.

Northerns, wat oor opwindende agterspelers beskik, het min van die bal gesien en moes meestal verdedig.

En die kere wat die Noord-Kapenaars op lopies wou afsit, is hulle in hul spore gestuit.

Bennet Nortjé, agtsteman en kaptein van Outeniqua, het ’n barshou gespeel. Om hom met die bal onder die arm te sien hardloop, is leeuplesier.

Puntemakers:

Grey 47 (26): Drieë: JD Odendal, Nabo Sokoyi, FC du Plessis, André-Hugo Venter, Jan-Hendrik Wessels, Ian Small-Smith, Marcell Muller. Doelskoppe: Juan Dee Oliver (6). Paarl Gimnasium 33 (12): Drieë: Gerhard van Niekerk, Pierich Siebert, Dylan Alexander, Liam Compion, Ethan James. Doelskoppe: Johan Smal (4).

Outeniqua 50 (21): Drieë: Leonardo Coetzee, Leon Volschenk (2), Bennet Nortjé, Caston Michaels (2), Dillon Pieterse, Gerhard Ackerman. Doelskoppe: Matthew Thorne (5). Noord-Kaap 7 (0): Drie: Seanrique Daniels. Doelskop: Elzandro Fredricks.

Waterkloof 38 (12): Drieë: Malcolm Langa, AJ Smith, Polla Melamed, Franco Groenewald, Jean du Randt, John Cory. Doelskoppe: Ian Trollip, Melamed (3). Diamantveld 5 (0): Drie: Sean Harding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.