Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Groot skolerugby wag op Paarl in 2018
Die Goue Leeus is vanjaar as die nie-amptelike kampioene van die Cravenweek-toernooi vir o.18-spanne gekroon. Foto: Gallo Images

Die Hoër Jongenskool Paarl gaan volgende jaar as deel van sy 150ste bestaansjaarvieringe die Cravenweek vir o.18-spanne aanbied.

Daar is boonop in April by dié skool ’n week lange internasionale toernooi vir skolespanne wat ook beplan word.

Ander goeie nuus vir die Westelike Provinsie is dat dié unie in 2018 deur twee spanne by die Cravenweek, sowel as twee spanne by die Akademieweek, wat gelyktydig met die Cravenweek (8-14 Julie) plaasvind, verteenwoordig sal word.

“Ons voel baie bevoorreg om volgende jaar die Cravenweek te kan aanbied,” het Richard Visagie, die hoof van sport by Boishaai, gesê.

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Skolerugbyunie het intussen ook drastiese veranderinge aangebring ten opsigte van die samestelling van die spanne vir die Cravenweek en Akadmieweek. Die WP, Blou Bulle en Leeus sal vanweë hul diepte in spelersgetalle volgende jaar toegelaat word om ook B-spanne na die Cravenweek te stuur. Dit sal meebring dat die Streeptruie aanstaande jaar deur sogenaamde o.18C- en D-spanne by die Akademieweek verteenwoordig sal word.

In samehang met die WP, Leeus en Bulle se groter verteenwoordiging by die Cravenweek is terselfdertyd besluit dat Zimbabwe, Namibië en die plattelandspanne van die Oostelike Provinsie, Griekwas en Grens nie meer deel sal vorm van die Cravenweek nie.

Dié vyf spanne word nou by die Akademieweek geïnkorporeer. Altesaam 18 spanne sal aan die Cravenweek deelneem, met die Akademieweek wat uit 28 spanne bestaan.

Alle wedstryde sal op Boishaai se velde in Brugstraat, Paarl plaasvind, het Visagie gesê.

Die feesvierende Boishaai gaan in die eerste week van April volgende jaar – in ’n “oefenlopie” vir die Craven- en Akademieweek – ook ’n o.18-toernooi aanbied waarby 10 van die land se voorste skolespanne tesame met 10 oorsese skole betrokke sal wees. Uitnodigings is gerig aan die rugbybonde van al die voorste rugbyspelende lande, selfs ook die Suidsee-eilande.

Indien hierdie internasionale toernooi suksesvol verloop, oorweeg HJS Paarl selfs om dit ’n jaarlikse instelling te maak, sê Visagie.

Die Coca-Cola Grant Khomo Week vir o.16-spanne en die Cravenweek vir o.13’s sal in 2018 van 1 tot 6 Julie gesamentllik by Hoërskool Diamantveld in Kimberley aangebied word, terwyl die LSOB Cravenweek van 24 tot 28 Junie in Vanderbijlpark plaasvind.

Meer oor:  Paarl  |  Rugby  |  Cravenweek  |  Skolerugby  |  Boishaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.