Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Hane kraai vir belowende SA skolespelers

Nie minder nie as 13 skolerugbyspelers wat vanjaar by die o.18-Craven- en Akademieweek betrokke was, sal op 26 November na Frankryk reis in ’n poging om kontrakte by klubs daar los te speel.

Jason Nel van die Hoërskool Wesvalia is die nuutste skoolseun wat ’n kontrak met ’n Franse klubspan gesluit het. Foto: Gallo Images

Die groep van 22 spelers is gekies vir ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan wat onder die vaandel van die Rugby Travel Barbarians sal uitdraf in wedstryde teen talle Franse klubspanne se o.18’s.

Jason Nel, wat in 2019 op slot vir die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp uitgedraf het, is reeds ’n kontrak deur die Franse klub Perpignan aangebied en sal aan die einde van die jaar sak en pak na Frankryk verhuis.

Hy sluit hom aan by name soos Marcell Muller, Lesley Botha, FC du Plessis, Danwich Beukes (almal Grey-kollege), asook Kade Wolhuter en Robbie Rodgers (albei Paul Roos Gimnasium) en Werner Kruger (Affies), wat almal hul rugby volgende jaar in Frankryk gaan speel.

Nel het by die Akademieweek vir die Luiperds uitgedraf en is ’n bielie van 2,07 m, wat die skaal op 115 kg laat kreun.

“Jason sal direk ná sy laaste matriek-eindeksamenvraestel na Perpignan vertrek,” het die span se breier, Len Olivier, gesê.

Ek glo daar is baie geleenthede vir seuns om in Frankryk hul loopbane voort te sit.
Len Olivier

“Ons het sy agent gekontak met die aanbod en saamgewerk om te verseker hy kry die kontrak.”

Olivier meen Perpignan is die ideale klub vir Nel, met die span in die suide van Frankryk wat reeds in die verlede oor ’n deeglike Suid-Afrikaanse slot-spens beskik het. Name soos Barend Britz en die oud-Springbok Gerrie Britz het vir Perpignan uitgedraf, met ’n voormalige Blou Bul, Berend Botha, wat tans sy rugby daar speel.

“Ek glo daar is baie geleenthede vir seuns om in Frankryk hul loopbane voort te sit,” sê Olivier.

“Jason is ’n baie goeie voorbeeld van ’n speler wat nie eens Cravenweek kon speel nie, maar steeds in aanvraag in Frankryk is. Daar is baie sulke talentvolle jong seuns in ons land en ek glo dat daar ander spelers is, wat vir watter rede ook al nie hul provinsies se Cravenweek- of Akademieweek-spanne kon haal nie, maar goed genoeg geag sal word om in Frankryk hul rugbyloopbane te gaan voortsit.”

Die groep is saamgestel uit spelers wat vanjaar in Bloemfontein by die Cravenweek en Akademieweek geïdentifiseer is, asook ’n paar individue wat volgens Olivier hulself ongelukkig kan ag dat hulle nie by dié toernooie betrokke was nie.

Die span, wat deur Nutri Feeds geborg word, sal onder meer ’n draai maak in Vannes, ’n klub waarvoor Olivier self op losskakel uitgedraf het. Dan wag die Top14-klubspan Agen, wat beroemd is vir sy o.18-rugbyakademie, met ’n draai wat ook in Bordeaux gemaak sal word.

Olivier, wat in 2018 die Hoërskool Dr. EG Jansen help brei het, is agterlynafrigter vir die span, terwyl Rassie Jansen van Vuuren, wat self vir agt jaar in Frankryk gespeel het, die voorspelers afrig.

* Die groep is: Johannes Du toit (Hoërskool Frikkie Meyer, Limpopo Blou Bulle-Cravenweekspan), Simon Cowley (Graeme College, Oostelike Provinsie-Akademiespan), FP de Villiers (Hoërskool Pionier, Haaie-Akademiespan), Ndumiso Nyawo (Hoërskool Vryheid, Haaie-Akademiespan), Charl Burger (Hoërskool Diamantveld, Griekwas-Cravenweekspan), Jarred Comley (Hoërskool Brandwag, OP-Cravenweekspan), Luhan Oosthuizen (Hoërskool Eldoraigne), Jonathan Blom (Stutterheim High School, Grens-Akademiespan), Stephanus van Niekerk (Potchefstroom Volkskool, Luiperds-Akademiespan, Divan Du Toit (Hoërskool Transvalia, Valke-Noordvaalspan), Eadin Layzelle (St. Benedicts College), Jooste Nel (Hoërskool Montana, Blou Bulle-Akademiespan), George Hayes (Hoërskool Monument), Rupert Bronkhorst (Hoërskool Transvalia), Brandon Wilkie (Hoërskool Framesby, OP-Cravenweekspan), Etienne Clausen (Hoërskool Montana), Jurie Wessels (Hoërskool Bothaville, Griffons-Akademiespan), Edrich Reyneke (Hoërskool Eldoraigne), Brand Davids (Walvisbaai Privaat Hoërskool, Namibië), Eben Lategan (Aliwal North High School, OP-Akademiespan), Eugene Ferreira (Curro Nelspruit), Marcus de Kock (Hoërskool Waterkloof, Blou Bulle-Akademiespan).

Meer oor:  Skolerugby  |  Frankryk  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.