Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Hermann moker Nigerië stukkend

’n Onoorwonne 168 lopies deur Jordan Hermann het Maandag die Titans gehelp om Nigerië ’n deeglike drag slae met 142 lopies op die derde dag van die Cubs-week in Stellenbosch te gee.

Hermann, wat goed ondersteun is deur sy spanmaat Khaya Nyamathe (71), het kinderspeletjies van Nigerië se boulers gemaak en toe met die bal met syfers van 2/5 gespog.

Jordan Hermann van die Titans verlede jaar in aksie vir die Hoërskool Waterkloof tydens die Coca-Cola T20-toernooi. Hy het Maandag 168* lopies aangeteken teen Nigerië by die o.19-Cubs-week in die Boland. Foto: Gallo Images

Nadat die Titans op die eerste dag die knie voor die Lions moes buig, het hulle herstel en Sondag die Dolphins met 117 lopies kafgedraf.

Die Titans het Maandag 337/4 aangeteken in hul 50 beurte en Nigerië toe vir 195 uitgeknikker.

Hermann se vertoning met die kolf het dié van die Knights se Reeza Alexander oorskadu. Hy het Alexander ook uit die tweede plek geskuif op die lys van hoogste tellings deur ’n speler in dié toernooi.

Alexander het Sondag 139 lopies van net 149 balle teen Namibië gemoker om agter Garnett Tarr in te skuif op die ranglys van spelers wat die meeste lopies in ’n wedstryd kon aanteken.

Tarr se onoorwonne totaal van 181 lopies teen die Cobras in 2019 beteken dat hy die eerste plek beklee.

Ná Hermann se vertoning lê Alexander nou in die derde plek met Christopher de Freitas se 132 wat hy Sondag teen Nigerië aangeteken het wat die vyfde plek ingeneem het.

Die Cobras het hul eerste nederlaag van die toernooi gely toe die Knights hulle met vier paaltjies getroef het. Die Knights het in die proses dit drie uit drie gemaak in die toernooi.

Ná Lehan Botha se twee agtereenvolgende honderdtalle op die eerste twee dae van die toernooi, kon hy Maandag net 27 lopies tot die Cobras se totaal van 175 bydra. Daniel Smith (54) het die praatwerk met die kolf gedoen, maar dit was nie genoeg nie.

Die Knights, met Ruan Cronjé (62) en Marco de Kock (26) as die voorste lopiemakers, het eindelik genoeg skietgoed gehad.

Botha het Saterdag met 103 lopies sy eerste honderdtal van die toernooi aangeteken op pad na sy span se yslike sege met 159 lopies oor die Namibiërs. Hy het boonop Sondag sy span tot ’n oorwinning met vyf paaltjies gelei oor die Warriors nadat hy ’n onoorwonne 109 lopies gemoker het op die Parys-krieketveld in die Paarl.

Die Lions is saam met die Knights die enigste twee onoorwonne spanne vanjaar nadat die Johannesburgers met die Dolphins klaargespeel het.

Die Dolphins is almal uitgehaal vir 193, met Chad Laycock (68) wat die beste met die kolf gevaar het.

Nóg ’n breker-vertoning deur De Freitas (65*) tesame met Heinrigh Pieterse (57*) het beteken dat die Lions met net vyf paaltjies plat die teiken verbygesteek het.

Die Warriors het ook vir Namibië ’n groot loesing met 140 lopies toegedien.

James Mullins (83) en George van Heerden (63*) het die bure uit die wedstryd gekolf, terwyl Joshua Stephenson 3/22 met die bal geneem het. Van Heerden het ook sy veelsydigheid ten toon gestel en met syfers van 2/4 gespog.

Van Heerden was boonop ook onoorwonne op 74 teen die Cobras in Sondag se kragmeting.

Nadat Namibië ’n teiken van 281 moes jaag vir ’n sege, was die span almal terug in die kleedkamer vir net 140. Matthew de Gouveia (34) was sy span se voorste lopiemaker.

Meer oor:  Cubs-Week  |  Skolekrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.