Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Hugenote beëindig droogte

Die Hoërskool Hugenote se eerste rugbyspan het Saterdag die eerste keer in 32 jaar weer rede gehad om die vreugdevure hoog te laat brand.

Die span van Springs het soos besetenes gespeel om vir die Hoërskool Middelburg in Afdeling 1 van die Virsekerbeker-reeks se Skild-kompetisie se eindstryd met 57-34 te vermorsel.

Het hom! Die Hoërskool Hugenote van Springs se kantman, Lean Harmse seil oor die doellyn vir sy drie in sy span se wegholsege in die Skild-eindstryd. Foto: Frans Lombard

Dít nadat die Middies in die ligawedstryde sonder te veel moeite met 35-17 koning gekraai het.

In die eindstryd was Hugenote egter ’n perd van ’n ander kleur.

Van meet af was dit duidelik dat die manne van Springs ’n doel voor oë het.

Hulle het ’n droombegin tot die wedstryd gehad toe die flank, Léan Harmse, onaangeraak oor die doellyn geseil het vir die eerste drie van die wedstryd nádat die losskakel Derik Bierman ’n strafskop oorgeklits het.

Bierman het daarna vanaf omgekeerde besit hakskene gewys en sy span se tweede gedruk, voordat die slot, Ryan du Toit, en die agtsteman, Edward Evans, gevolg het.

Hugenote was rustyd stewig in die saal met 31-10 nadat die Middies se loskopstut, Sipho Nzotho, oorgebars het kort voor die halftydfluitjie.

Ná rustyd het Hugenote nie die voet van die versneller gehaal nie en sy haker, Liam Brooks, was oor vir sy drie.

Die Hoërskool Hugenote van Springs se kookwater-losskakel, Derik Bierman, storm doellyn toe vir sy drie teen die Hoërskool Middelburg in die Skild-eindstryd. Foto: Frans Lombard

Evans, sowel as die buitesenter, David Kruger, en die linkervleuel, Nico Grobler, het ook vir Hugenote agter die doellyn gaan draai in die tweede helfte.

Middelburg se vier drieë in die tweede skof was egter te min te laat.

Hugenote se generaal, Bierman, het sy agterlyn deurlopend op die voorvoet geplaas en sake uitstekende agterlangs beheer. Sy 22 punte het ’n drie, ’n strafdoel en sewe doelskoppe ingesluit.

Dan moet Evans se vertoning ook uitgesonder word. Hy was orals betrokke en het op tye soos ’n wafferse senter die verdediging na lug laat gryp.

Aan die kant van Middelburg kan sy losskakel, Ricardo Schonfeldt, ook tevrede met sy poging voel.

Dit was die eerste keer sedert 1987 wat die span as die kampioene gekroon is. Op daardie dag het hulle vir die Hoërskool FH Odendaal met 18-14 geklop, met die voormalige Springbok-haker, Chris Rossouw, wat hulle vanaf agtsteman aangevoer het. Aan die kant van FH Odendaal het die legendariese Joost van der Westhuizen die toutjies agter die oond getrek.

Buiten Rossouw, het die huidige Suid-Afrikaanse skolespan se losskakel, Kian Meadon, se pa, Hennie, ook vir Hugenote op buitesenter uitgedraf.

* In Afdeling 2 se eindstryd is die Hoërskool Pietersburg as die kampioene gekroon ná sy taai sege teen Ligbron Akademie vir Tegnologie van Ermelo. Die Pieties het die pyp gerook met 23-20, terwyl Ligbron se o.16- en o.14-spanne in hulle ouderdomsgroepe geseëvier het teen onderskeidelik Pietersburg (62-21) en die Hoërskool Secunda (20-0).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.