Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Botes ná 23 jaar weer ’n Gimmie in Potch

Dit is 23 jaar sedert Jacques Botes sy skolerugby langs die Mooirivier gespeel het, maar nou gaan dié voormalige Haai en staatmaker-losvoorspeler terugploeg by die skool waar alles vir hom begin het.

Nadat hy laas in 1998 in die skoolbanke van Potchefstroom Gimnasium gesit het, is die 40-jarige terug by sy alma mater, waar hy pas as die skool se direkteur van sport aangestel is.

Jacques Botes word op die skouers van sy Barbarian-spanmaats gelig ná sy laaste beroepswedstryd in 2014. Foto: Getty Images

“Ná só ’n lang tyd kry ’n ou bietjie heimwee en ongelooflike herinneringe neem jou terug na die tyd toe jy nog op skool was,” sê Botes. Hy het tussen 2017 en 2019 ook die Hoërskool Parys met afrigting gehelp, voor die terugkeer na sy ou skool.

Die Covid-19-pandemie en gevolglike opskorting van skolesport het afrigters se taak bemoeilik en belemmer die ontwikkeling van jong spelers, sê Botes.

“Die uitdaging lê daarin om die kinders weer aktief te kry en mededingend te laat speel. Soos met rugby, as ’n kind vir byna twee jaar nie speel nie, raak dit ’n geval van uit die oog, uit die hart.

“Jy word moeg van net oefen, maar kinders moet aangemoedig word om ’n aktiewe leefstyl te hê.”

’n Outjie van nege of tien jaar oud, wat nou vir twee jaar nie aan ’n rugbybal kon vat nie, loop ’n belangrike fase van sy vaardigheidsontwikkeling mis.

Botes sê dit is nie noodwendig die ontwikkeling van die kinders aan die einde van hul skoolloopbane wat hom bekommer nie, maar eerder die jonges wat ’n belangrike fase van hulle ontwikkeling oorslaan.

“Daar is ’n groot verskil tussen laerskool en matriek. ’n Outjie van nege of tien jaar oud, wat nou vir twee jaar nie aan ’n rugbybal kon vat nie, loop ’n belangrike fase van sy vaardigheidsontwikkeling mis.

“Wanneer ons uiteindelik tot ’n mate van normaliteit terugkeer, sal die onus op ons rus om daardie agterstand te moet inhaal. Die ontwikkeling van kinders is veel belangriker as om alles te wen.”

Botes het in sy lang beroepsloopbaan in 156 Curriebeker-wedstryde (27 vir die Pumas en 129 vir die Haaie), asook 115 Superrugby-stryde (vir die Haaie) gespeel en glo die kennis wat hy tussen 2002 en 2014 opgedoen het, kan hy aan ’n nuwe geslag Gimmies oordra.

Almal is só uitgehonger dat hulle net wil wedstryde speel, maar dit is werklik ’n rowwe skedule waaraan voldoen moet word.

“Ek glo my ervaring en geesdrif vir die sport kan werklik ’n indruk maak by die skool en op die kinders, veral gegewe die invloed wat sport op my lewe gehad het, nie net oor ek beroepsrugby kon speel nie, maar sport oor die algemeen.

“Sport hou ’n mens gesond, uit die moeilikheid en kom ook met baie lesse oor die lewe, of jy nou net wil deelneem en of jy wil meeding, dit bly fantasties.”

Botes sê verder dat hy simpatie het met die senior spelers en die getal wedstryde wat in hul program ingedruk word.

“Almal is só uitgehonger dat hulle net wil wedstryde speel, maar dit is werklik ’n rowwe skedule waaraan voldoen moet word.

“Vandat hulle begin speel het tot wanneer hulle hierdie seisoen klaarmaak, gaan dit omtrent 18 maande van ononderbroke rugby wees.

“Kyk net na die Curriebeker-reeks, daar is ’n hele paar weke waar hulle aanhoudend Saterdae en Woensdae speel. Iewers gaan iets opgeoffer word, of dit nou die spelers se welstand ten opsigte van beserings, of die gehalte van die spel is.”

Botes glo wel een groot les wat uit die Bulle se reuse-nederlaag teen Benetton in die eindstryd van die Reënboogbeker-reeks geleer kan word, is dat Suid-Afrikaanse spanne nodig het om hulle teen buitelandse spanne op te weeg en nie net aanhoudend mekaar te pak nie.

Meer oor:  Potchefstroom Gimnasium  |  Gimmies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.