Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Oud-Bok-breier Jake White word ’n ‘Donkie’

Die voormalige Springbok-afrigter Jake White sal vorentoe die Hoër Tegniese Skool Drostdy help om sy rugbyspelers se vaardighede op te skerp.

Dié skool in Worcester het vandeesweek in ’n verklaring gesê dat White, wat in 2007 die Springbokke tot Wêreldbeker-glorie in Frankryk gebrei het, hom aan die begin van September by die skool aangesluit het.

Die voormalige Springbok-breier Jake White (links) saam met Arthur Underhay van HTS Drostdy.Foto: Verskaf

White sal as ’n rugbykonsultant vir die Donkies, soos die skool se eerste rugbyspan bekend staan, optree.

Hy sluit hom aan by Sylvester Booysen, wat in Oktober die leisels as rugbydirekteur by die skool sal oorneem.

“Jake White sal by al die rugbyspanne van die skool betrokke wees en nie net by die eerste span nie,” het Elaine Marais, bemarker vir HTS Drostdy, by navraag gesê.

“Ons ooreenkoms is dat hy help met kondisionering van die spelers, afrigtingstrukture, asook leiding neem wat algemene rugbybehoeftes betref – dit sluit riglyne vir die rugby-organiseerder in.”

White sal ook leiding neem tydens die oefenkampe wat in Februarie 2020 by HTS Drostdy gaan plaasvind, waarna hy sal aanbly as konsultant vir die skool.

White het die Springbokke tussen 2004 en 2007 afgerig. Hy het in dié tyd die destydse Drienasies-titel in 2004 verower en toe in 2007 in die Stade de France-stadion in Parys die Wêreldbeker gelig.

Hy het sy loopbaan as afrigter by Parktown Boys’ High School in Johannesburg begin voordat hy na sy alma mater, Jeppe High School for Boys, teruggekeer en ook hulle eerste span afgerig het.

Onder sy leiding het die Suid-Afrikaanse o.21-span in 2002 die Wêreldtoernooi gewen.

Ná sy tyd by die Bokke het White in 2012 en 2013 die Brumbies se Superrugby-span afgerig, waarna hy tussen 2013 en 2014 kortliks by die Haaie was.

Hy was daarna by Montpellier in Frankryk, voordat hy in 2017 by Toyota Verblitz in Japan as hoofafrigter oorgeneem het.

Booysen beklee tans die pos van rugbydirekteur by die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal.

Hy was voorheen by die Hoërskool Menlopark, waar hy as hulpafrigter vir die skool se eerste rugbyspan opgetree het. Hy het ook in 2018 die Blou Bulle se Grant Khomo-span (o.16) afgerig, wat in die toernooi se hoofwedstryd teen die Vrystaat vasgeval het met 24-31.

Booysen het ook ’n paar wedstryde vir die Pumas in die Vodacombeker op sy kerfstok.

Dié twee se ervaring kan van groot waarde vir die skool wees ná sy eerste rugbyspan vanjaar ’n wipplankseisoen beleef het.

Die Donkies het onder meer teen die Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal (40-42), Welkom Gimnasium (16-32), die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (22-38), Hoërskool Monument van Krugersdorp (20-28), Hoërskool Framesby van Port Elizabeth (29-35) en Hoërskool Outeniqua van George (22-38) harde bene gekou.

Nietemin het hy steeds agt spelers vir Boland se Cravenweek-span opgelewer. Keane Gelant, Hugo Mostert, Roann Jansen, Joshua Smith, Renier Viljoen, Wynand du Plessis, Benicio Kamfer en Gysbert du Preez was die HTS Drostdy-spelers wat by die Cravenweek in Bloemfontein in aksie was.

Meer oor:  Jake White  |  Skolesport  |  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.