Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Jansies onttroon Monnas

’n Dramatiese drie in ekstra tyd deur die Hoërskool Dr. EG Jansen se Jaden du Preez het verseker dat die span van Boksburg die Hoërskool Monument onttroon as die Noordvaal Seweskampioen.

Die Hoërskool Dr. EG Jansen se Keagan Belfour wys hakskene vir ’n verdediger van die Hoërskool Monument wat hom tevergeefs probeer stuit.Foto: Frans Lombard

Die Jansies, wat in 2016 ook die trofee omhoog gehou het, het in die beker-eindstryd vir Monnas met 24-19 geklop en daarmee die span van Krugersdorp gestuit om ’n derde agtereenvolgende jaar die titel as die Noordvaal se voorste sewesspan te dra.

Dit was egter, soos verwag, ’n naelbytstryd.

Die Jansies se Jason Edwards, wat as die Speler van die Wedstryd aangewys is, het kort voor rustyd afgerond om sy span met 14-12 te laat voorloop.

Kort voor die eindfluitjie het Monnas se Herschelle Goodman afgerond om sake met 19-19 gelykop te maak en die wedstryd in ekstra tyd in te stuur.

Sake was gelykop tot enkele sekondes voordat die eindfluitjie van ekstra tyd sou blaas toe Edwards ’n beweging van stapel gestuur het wat tot Du Preez se wendrie sou lei.

Die Jansies het al hul groepwedstryde gewen nadat hulle die Hoërskool Montana (28-12), Lichtenburg (42-17) en Noordheuwel (34-21) omgedop het.

In die beker-kwarteindstryd het die Jansie Bom die Hoërskool Rustenburg met 31-12 ore aangesit, voordat hulle ’n begeesterde poging deur die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen net-net afgeweer het om as 19-17 oorwinnaars van die veld te stap in die beker-halfeindstryd.

Giovanni van Eeden het met die laaste beweging van die wedstryd die Jansies deurgesien toe hy agter die doellyn gaan draai het.

Monnas, wat in 2017 en 2018 die beker verower het, was ook onoorwonne in die groepwedstryde met seges oor die Hoërskool Kempton Park (35-7), die Vossies (17-12) en Waterkloof (24-12).

Die Hoërskool Nelspruit het met die bronsmedalje weggestap nadat hy Ben Vorster met 22-17 geklop het in die uitspeelstryd om die derde plek.

Die Nellies kan self hul koppe omhoog hou nadat hulle met Rustenburg (28-5), die Hoër Volkskool Heidelberg (28-17), Menlopark (21-12) in die groepwedstryde afgereken het. Die Parkies het boonop al hul wedstryde verloor.

In die beker-kwarteindstryd het die Nellies die Nories met 26-12 geklop, voordat hulle teen Monnas in die halfeind vasgeval het.

Hoërskool Garsfontein het met ’n oortuigende vertoning in die plaat-eindstryd met die Hoërskool Middelburg met 29-12 klaargespeel, terwyl die span van Heidelberg die bowl gewen het ná hulle met die Lichies met 40-5 klaargespeel het. Die Klofies se wegholoorwinning van 45-5 het die skild aan hulle verseker.

* Die Hoërskool Menlopark het die beker omhoog gehou in die o.15-afdeling.

Die Parkies het in die beker-eindstryd vir die Hoërskool Middelburg met 24-15 laat les opsê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.