Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Jurich red SA Skolespan teen Wallis

Dit het ’n oomblik van individuele briljantheid geneem om die Suid-Afrikaanse Skolespan van hul eerste sege in twee jaar te verseker toe hulle Wallis Vrydagmiddag met 43-40 die loef afgesteek het in die o.18-reeks by Boland Landbou.

Met tyd verstreke het die plaasvervanger en skrumskakel Jurich Claassens die verdediging laat les opsê om die Suid-Afrikaners rooi gesigte gespaar te laat bly.

Die SA Skole-binnesenter, Mnombo Zwelindaba, duik oor vir sy drie teen Wallis. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaners moes hard werk, met die meeste van die spelers wat vir die eerste keer saamgespeel het en die groep wat nog hul voete moet vind, veral op die verdediging.

Die twee spanne was van die afskop in ’n wipplankstryd gewikkel. Die tuisspan het sewe drieë ingeryg, terwyl Wallis ses keer agter die doellyn gaan draai het.

Wallis het vroeg ’n voorsprong van 14-5 geniet danksy drieë deur die senterpaar Aneurin Owen en Joe Roberts.

Die SA Skolespan se linkervleuel Stravino Jacobs het die Suid-Afrikaners op die telbord gekry toe hy in die hoekie oor is.

Twee onverdoelde drieë wat deur die haker JJ Kotze en die binnesenter Mnombo Zwelindaba afgerond is, het die Suid-Afrikaners se neuse net-net voor gekry, voordat Wallis se vaskopstut, Luke Yendle, agter die doellyn gaan kuier het om die Drake met 21-15 te laat voorloop.

Die SA Skole-agtsteman, Celimpilo Gumede, het net voor die rustydfluitjie gaan druk, met Thomas Bursey wat verdoel het om die Suid-Afrikaners naelskraap met 22-21 voor te laat loop.

In die tweede helfte het die tuisspan meeste van die besit en gebiedsvoordeel geniet, maar kon hulle by talle geleenthede nie laat geld nie.

Die losskakel Juan Mostert het die Suid-Afrikaners se voorsprong tot 29-21 vergroot met ’n verdoelde drie, voordat Wallis die voortou teruggevat het met drieë deur die flank Jac Morgan en ’n afstormdrie deur die losskakel Sam Costelow om 33-29 voor te loop.

Kotze het die Suid-Afrikaners se neuse weer voor gekry toe hy sy tweede drie gedruk het, maar toe Morgan ook sy tweede afgerond het, het die besoekers reeds die vreugdevure begin aansteek, net om te sien hoe Claassens hul harte breek.

Die vertoning van die stutte Dewald Donald en Herman Agenbag moet uitgelig word. Hulle het deurlopend hul man gestaan. Die flank Keketso Morabe het ook verskeie sterk lopies ingekry.

Agterlangs het die senterpaar van Zwelindaba en die kaptein Muzi Manyike ook giftig gelyk.

Dinsdag sal die SA Skolespan die gedugte span van Frankryk aandurf. Die Fransmanne het Engeland met 41-21 kafgedraf.

Wallis sal hoop om die tweede agtereenvolgende jaar die Rose se tier te wees.

Die Suid-Afrikaners het in 2017 ’n nagmerrie-toernooi beleef waar hulle deur Wallis (30-28), Frankryk (13-8) en Engeland (52-22) geklop is.

Puntemakers:

SA Skolespan 43 (22): Drieë: Stravino Jacobs, JJ Kotze (2), Mnombo Zwelindaba, Celimpilo Gumede, Juan Mostert, Jurich Claassens. Doelskoppe: Thomas Bursey (2), Darren Hendricks (2).

Wallis 40 (21): Drieë: Aneurin Owen, Joe Roberts, Luke Yendle, Jac Morgan (2), Sam Costelow. Doelskoppe: Sam Costelow (5).


Meer oor:  Skolerugby  |  Wallis  |  Sa Skolespan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.