Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Kaapse swaargewigte slaags

Paarl Gimnasium sal Saterdag ’n appeltjie te skil hê met Paul Roos Gimnasium wanneer dié spanne op die Markötter-veld in Stellenbosch uitdraf.

Die binnesenter van Paul Roos Gimnasium, Ruben Labuschagne (regs), sal ‘n faktor wees in sy span se wedstryd teen Paarl Gimnasium. Foto: Frans Lombard

Die Maroen Masjien het verlede jaar met ’n uitstekende vertoning die Paarlse span met 32-13 ore aangesit en is steeds onoorwonne in 2019, hoewel Gimmies net hul derde Suid-Afrikaanse teenstander van die jaar sal wees.

Paul Roos het agt groot seges oor buitelandse teenstanders by die Wêreld-skolerugbyfees en Sanix se Wêreld-jeugrugbytoernooi Japan behaal. Paul Roos is as die kampioen in Fukuoka gekroon.

Hulle het ook vir Rondebosch Boys’ High (31-7) en Grey High van Port Elizabeth (24-18) geklop.

Paarl Gimnasium se Stephan du Toit sal Saterdag gapings in die middelveld teiken teen Paul Roos Gimnasium. Foto: Frans Lombard

Gimmies het vanjaar reeds met sewe plaaslike teenstanders klaargespeel, waaronder die Afrikaanse Hoër Seunskool (46-19), Oakdale Landbou (51-25), Monument (43-29) en Menlopark (38-23). Hul enigste nederlaag in 2019 was verlede week teen ’n indrukwekkende Grey-kollege (33-47).

Sedert 2001 het Gimmies 12 seges oor Paul Roos behaal, terwyl die span van die Eikestad in dieselfde tydperk vyf keer die pyp gerook het. Een wedstryd, in 2003, het met 16-elk gelykop geëindig.

Albei spanne het verskeie spelers wat verlede jaar in hul groep was, wat Saterdag weer beskikbaar is.

Onder Paul Roos se ervare spelers tel die loskopstut Robbie Rodgers, agtsteman Jarod Cairns, losskakel Kade Wolhuter, binnesenter Ruben Labuschagne, linkervleuel Tiaan Pretorius en die heelagter Cade Croy.

Net so kan Gimmies weer op die agtsteman Juan Wilson, skrumskakel Bobby Alexander, vleuel Stravino Jacobs, senter Stephan du Toit en die heelagter Tiaan Swanepoel staatmaak.

Lesley Botha van Grey-kollege kan Affies die naweek hoofbrekens besorg in dié spanne se interskole-wedstryd. Foto: Gallo Images

* In Bloemfontein sal Grey-kollege vir Affies inwag in nog ’n groot interskole-affêre.

Dit sal die 44ste keer wees wat dié twee spanne mekaar pak, met die eerste wedstryd wat in 1923 gespeel is.

Sedertdien het die manne van die Rosestad 31 keer die botoon gevoer, met Affies wat nog net ses keer die Vrystaters se doppie kon klink. Vyf wedstryde het gelykop geëindig.

Grey het in 2018 ’n opwindende stryd met 39-28 gewen, terwyl Affies laas in 2015 (29-18) baas was.

As dié spanne se peil in 2019 as maatstaf gebruik word, sal kenners hul geld daarop verwed dat Grey nog ’n regmerkie langs sy naam sal kry.

Die Vrystaters was onoorwonne in 2018 en het nog nie die knie vanjaar gebuig nie. Hulle spog met ’n gemiddelde telling van 49-17 in hul nege kragmetings met Suid-Afrikaanse teenstanders in 2019.

Affies het sover ’n wipplankseisoen, met geskiedkundige nederlae teen King Edward VII (29-33) en Westville Boys High (31-35), terwyl hulle ook pak teen Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl (12-39) gekry het.

* In Gauteng wag vuurwerk in die Virsekerbeker-reeks.

Hoërskool Garsfontein sal met Monument swaarde kruis. Verlede jaar het hulle twee keer paaie gekruis in dié reeks, met Garsfontein wat die eerste met 49-39 gewen en Monnas wat toe daarna die bordjies verhang het met 45-15.

Waterkloof sal gasheer speel vir Menlopark, terwyl EG Jansen en Helpmekaar ook niks sal terughou in hul ontmoeting nie. HTS Middelburg sal op sy beurt wraak wil neem teen Transvalia nadat hy in 2018 met 24-73 vasgeval het teen die span van Vanderbijlpark.

Meer oor:  Skolerugby  |  Paul Roos  |  Paarl Gimnasium  |  Grey-Kollege  |  Affies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.