Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Kan Menlo droogte teen Garsies breek?

Die vonke gaan Saterdag in die Virsekerbeker-reeks spat, met ondersteuners wat hul lippe kan aflek vir opwindende wedstryde.

Die wedstryd tussen die Hoërskool Menlopark en die Hoërskool Garsfontein in Pretoria sal sonder twyfel die grootste trekpleister wees.

Die Hoërskool Garsfontein se senter AJ Johnson druk verlede week ’n drie teen Monument in die Virsekerbeker-reeks. Foto: Wim Pretorius

Die Parkies sal hoop om ’n wendroogte van nege jaar teen die Garsies te breek wanneer hulle Saterdag op hul tuisveld uitdraf.

Die Parkies het verlede naweek die Hoërskool Waterkloof se Blou Tornado met 55-21 in ’n wegwedstryd getem. Dean van der Watt, afrigter, sê hulle wil dié momentum teen die Garsies benut.

“Dit gaan ’n groot wedstryd wees, want dis nie net rugby nie, maar ook netbal en hokkie wat beslis word,” het Van der Watt by navraag gesê.

“Ons het ’n paar beserings, maar ek is vol vertroue dat die ouens wat inkom, die mas sal opkom.”

Garsfontein het die afgelope naweek in die doodsnikke met 29-32 teen die Hoërskool Monument van Krugersdorp vasgeval.

“In dié reeks is tuiswedstryde van kardinale belang. Garsfontein het verlede week op sy tuisveld verloor en sal die week probeer vergoed vir daardie verlore ligapunte,” sê Van der Watt.

“Ons het darem nou twee wegwedstryde gewen en as ons hom die naweek ook kan deurtrek, sal ons stewig in die saal in die in die reeks wees.”

Die geskiedenis is egter in die besoekers se guns.

Die Bere spog met ’n merkwaardige wenrekord teen die Parkies en was elke keer aan die wenkant in die spanne se afgelope 10 kragmetings.

Menlopark was laas in 2011 baas teen Garsies, toe hulle met 19-13 gewen het. Garsfontein het egter later dieselfde jaar die bordjies verhang met 20-17 en sedertdien ’n ononderbroke onoorwonne rekord gehandhaaf.

“Ek dink dit gaan ’n wedstryd met ’n hoë telling wees, want albei spanne hou van drieë druk. Die twee spanne gaan mekaar duik dat die tande klap.”

Monnas het op hul beurt ’n appeltjie te skil met die Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark.

Transvalia het in 2018 die eerste keer sedert 1982 vir Monnas geklop toe hy met 34-31 geseëvier het in die Virsekerbeker. Dié spanne het in 2018 in die Tuks-skolereeks met 31-31 gelykop gespeel.

Die Wit Bulle is egter die span met die beste peil vanjaar en sal heelwat selfvertroue put uit hul sege oor Garsfontein. Transvalia kon vanjaar nog net vir Durban High School klop (34-12).

In Johannesburg sal Helpmekaar Kollege sy onoorwonne status in vanjaar se reeks wil behou wanneer hy teen die Hoërskool Noordheuwel te staan kom.

Die HTS Middelburg se Rooi Bulle het ook ’n moeilike wedstryd teen die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg.

* Die naweek se Virsekerbeker-bepalings:

Beker: Menlopark t. Garsfontein; Monument t. Transvalia; Helpmekaar t. Noordheuwel; HTS Middelburg t. EG Jansen.

Plaat: Montana t. Nelspruit; Marais Viljoen t. Ben Vorster; Kempton Park t. Eldoraigne; Rustenburg t. Zwartkop.

Skild: Oos-Moot t. Heidelberg Volkskool; Centurion t. Middelburg; Florida t. Jeugland.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.