Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Klofies knak Woeries in T20-eindstryd

Hoërskool Waterkloof is as Noordelikes se provinsiale T20-skolekampioen gekroon en het deurgedring tot die nasionale eindrondes wat hulle laas in 2011 gewen het.

Die Klofies het die Hoërskool Centurion in die eindstryd met 41 lopies ore aangesit en staan nou ’n goeie kans om die Titans te verteenwoordig by die nasionale eindstryde wat van 15 tot 17 Maart in Pretoria beslis sal word.

Jordan Hermann van Hoërskool Waterkloof (97) het net kort van sy honderdtal geval tydens die Titans se T20-kampioenskappe. Foto: Lee Warren

Centurion het ’n droombegin in die eindstryd gehad en die Klofies was vroeg in die moeilikheid op 32/3. Hulle het teruggeveg om eindelik 177 lopies aan te teken, danksy 97 lopies deur die staatmaker-aanvangskolwer Jordan Hermann, wat byna die hele beurt deur gekolf het.

Richardt Ackerman het ook goed gevaar vir sy 30 lopies, maar sy boulvertoning het eerder ’n sleutelrol gespeel.

Ackerman het met syfers van 3/26 gespog met Simeon de Bruyn wat ook skade aangerig het om af te sluit met uitstekende syfers van 4/15.

Die Klofies het deurlopend paaltjies geneem om die Woeries op die agtervoet te plaas. Hulle is eindelik vir 136 uitgehaal.

Agt spanne het aan die Titans se eindstryde deelgeneem. Hulle is in twee groepe ingedeel om te bepaal wie tot die eindstryd sou deurdring.

Waterkloof, Garsfontein, Prestige College en Cornwall Hill was in die eerste groep met Centurion, Pretoria Boys High, Midstream College en St. Albans wat in die tweede groep deelgeneem het.

Waterkloof het eerste in hul groep geëindig nadat die Klofies Cornwall Hill met agt paaltjies geklop het, waarna hulle Garsfontein met 22 lopies en Prestige College met 49 lopies die loef afgesteek het.

Centurion was die beste in die tweede groep en het St. Albans met 22 lopies afgereken, voordat hy Pretoria Boys High met vier paaltjies en Midstream met sewe paaltjies omgedop het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.