Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Covid-19 kelder Wêreld-rugbyfees

Die Wêreld-skolerugbyfees wat eersdaags by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria sou plaasvind, is weens die wêreldwye uitbreking van Covid-19 gekanselleer.

Dié toernooi sou oor minder as drie weke afgeskop het en dié nuus sal Affies se planne vir sy eeufeesvierings lelik deurmekaarkrap.

Vir Affies, wat in Januarie sy 100ste bestaansjaar gevier het, was dié toernooi een van die hoogtepunte op sy sportkalender vir die jaar. Tien Suid-Afrikaanse skole sou van 24 tot 28 Maart teen tien buitelandse spanne gespeel het.

“Dis met hartseer dat ons weens buitengewone omstandighede geen opsie het as om aan te kondig dat verskeie van die oorsese spanne hulle onttrek het en dat daar geen alternatiewe datum vir die 2020-Wêreld-skolerugbyfees is nie, so dit sal nie later dié maand plaasvind nie,” het Carinat Sports Marketing, wat die toernooi organiseer, in ’n verklaring gesê.

“Met die onttrekkings en kommer wat uitgespreek is (oor die gevare van die nuwe koronavirus), glo ons dat elke individu se gesondheid en welstand altyd ’n prioriteit sal wees.”

Zander du Plessis van Grey Kollege in 2018 op die aanval teen ’n speler van Hartpury College van Engeland in die eerste Wêreld-skolerugbyfees wat by die Hoër Jongenskool Paarl gehou is. Foto: Gallo Images

Affies sal glo nou ’n plan maak om steeds ’n kompeterende toernooi te hou waarin die plaaslike skole wat aan die skolefees sou deelneem, steeds teen mekaar sal speel.

Van die groot kanonne van skolerugby in Suid-Afrika, soos Grey Kollege, Paul Roos Gimnasium, die Hoërskool Monument van Krugersdorp, South African College Schools (Sacs) en Hilton College van KwaZulu-Natal en uiteraard Affies sou almal vanjaar teen die oorsese skole hul slag gewys het.

Dié skole sal vanjaar steeds na Pretoria opruk, met uitnodigings wat ook aan ander skole gestuur sal word en die jaarlikse Francois Swart-rugbyweek vir o.15-spanne, wat nou deel van die eeufeesvieringe sal wees.

Maritzburg College, Pretoria Boys High School, King Edward VII School en die Hoër Landbouskool Oakdale sal na verwagting steeds deelneem.

Volgens Perry Joynt, hoof van Affies, stel Hartpury College van Engeland steeds belang daarin om te kom.

Hartpury College, wat die eerste twee weergawes van die toernooi bygewoon het, is een van die min buitelandse spanne wat wel weerstand teen die Suid-Afrikaanse skole gebied het.

Dit sal moontlik die enigste buitelandse span wees wat wel einde vandeesmaand by Affies te sien sal wees.

King’s College van Auckland, Nieu-Seeland, sou een van die groot trekpleisters wees. Dié skool word as een van die voorste Kiwi-skolespanne beskou.

Portugal en Georgië, sowel as die VSA was van plan om hul nasionale o.18-spanne te stuur, terwyl Fidji met die Ratu Kadavulevu School die eerste keer sy buiging in die toernooi sou maak.

Italië se Verona Academy is nog 'n buitelandse span wat ook teen die Suid-Afrikaanse spelers te staan sou kom, met die AP Dragons, ’n gemengde span wat uit Suid-Afrikaanse en buitelandse spelers bestaan, wat ook ’n derde keer in die toernooi sou wees. Tonga sou ook na verwagting ’n span gestuur het.

Die toernooi is die geesteskind van Sean Erasmus, wat dit in 2018 as deel van die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) se 150-jarige feesvieringe begin het.

Dit is in 2019 deur Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied.

Die toernooi het die laaste paar jaar gewys hoe gedug SA skolespanne is.

Suid-Afrika het in 2019 in 17 van die 20 wedstryde teen oorsese spanne koning gekraai, met een gelykopuitslag en twee nederlae.

Die Suid-Afrikaanse spanne het toe in hul 20 wedstryde 835 punte opgestapel en net 373 afgestaan, vir ’n gemiddelde telling van 41-18.

Die enigste span wat onder die “Res van die Wêreld”-vaandel gespeel en werklik mededingend was, was die Wêreld XV-uitnodigingspan wat, buiten die vier Italianers in hul groep, uit Suid-Afrikaners bestaan het.

In 2018 het die Suid-Afrikaanse spanne ook grootliks oor hul buitelandse teenstanders gestoomroller.

Meer oor:  Skolerugby  |  Koronavirus  |  Affies  |  Covid-19  |  Wêreld-Skolerugbyfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.