Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Koronavirus pootjie skolerugby

Stygende koronavirusinfeksies onder skoolkinders het verskeie groot skole genoop om alle buitemuurse sportaktiwiteite tydelik op te skort.

Een van die grootste kragmetings wat hierdeur geraak word, is die jaarlikse interskole-sportdag tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria en Grey-kollege van Bloemfontein.

Dié twee spanne sou Saterdag vir die 45ste keer teen mekaar op die veld draf. Hul eerste kragmeting was byna ’n eeu gelede, in 1923.

“Dit spyt my om u mee te deel dat ons genoodsaak is om as voorsorgmaatreël alle buitemuurse aktiwiteite vir die volgende tien dae met onmiddellike effek te staak,” het Peregrine Joynt, hoof van Affies, luidens ’n verklaring gesê.

Skolerugby in die ooste van Pretoria is ’n nekslag toegedien deur die tydelike opskorting van wedstryde weens stygende koronavirusinfeksies. Hier is die Hoërskool Waterkloof verlede naweek in aksie teen die Hoërskool Monument. Foto: Frans Lombard

“Hierdie besluit is geneem ná inagneming van mediese advies, die regulasies van die departement van gesondheid en deeglike oorweging deur die skoolbestuur en die beheerliggaam.”

Affies het die afgelope dae ’n skerp styging gesien in seuns wat positief vir die koronavirus getoets is.

“Daar is tans 11 seuns in die skool in verskillende grade wat die virus opgedoen het en gevolglik moet sowat 60 seuns en sewe personeellede tans selfisoleer. ’n Groot bron van kommer is die feit dat minstens vier van hierdie 11 seuns in alle waarskynlikheid positief getoets is weens primêre kontak met hul spanmaats of koshuiskamermaats wat vroeër positief getoets is,” het Joynt gesê.

“Dit bring ongelukkig mee dat ons sportbepalings teen Grey-kollege en Jeppe Boys’ High nie in die volgende twee weke sal kan plaasvind nie.”

Daar is wel reeds gesprekke tussen dié skole oor toekomstige datums vir die geaffekteerde bepalings.

’n Paar wedstryde in die Virsekerbeker-reeks se Beker-afdeling is ook vir eers van die baan, nadat verskeie skole in die ooste van Pretoria besluit het om die volgende twee weke se sportverrigtinge te staak.

Die Hoërskool Garsfontein sou na die Hoërskool Monument in Krugersdorp gereis het, terwyl die Hoërskool Menlopark en die Hoërskool Waterkloof mekaar die stryd sou aansê. Dié twee wedstryde is nou afgestel.

Volgende naweek se kragmeting tussen Garsies en Parkies bly ook in die slag, maar Noordheuwel kan dalk steeds gasheer vir die Helpies speel. Die Hoër Tegniese Skool Middelburg, wat vandeesweek ’n loslootjie in die reeks het, hoop ook sy wedstryd teen Monnas sal steeds realiseer.

“Die skoolhoofde van die Ooste-belangegroep in Pretoria het ’n kollektiewe besluit geneem om kontaksportbyeenkomste en kontakoefeninge vir die volgende tien dae (tot 22 Mei) te staak,” het Waldo Prinsloo, adjunkhoof van Buite-kurrikulêr in dié streek, gesê.

“Dit sluit rugby, netbal, hokkie en stoei in.”

Suid van Pretoria gaan dinge in die stadium soos normaal voort.

Helpmekaar Kollege van Johannesburg sal steeds Saterdag gasheer speel vir die Hoërskool Dr. E.G. Jansen van Boksburg, terwyl die Hoërskool Noordheuwel en die Hoërskool Marais Viljoen van Alberton ook nog slaags sal wees.

Meer oor:  Skolerugby  |  Koronavirus  |  Skolesport  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.