Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Levandré se seskuns betower

Hier is gróót moeilikheid . . .

Dít was die algemene gevoel oor die kwaliteit van Gauteng se skolespanne na afloop van die tweede dag van die Noord-Suid-toernooi by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.

Ná Woensdag se laaste eindfluitjie geblaas is, lees die noorde se rekord onder die eerste spanne as volg: nege gespeel, een gewen, agt verloor.

Om nie te praat van die punte aangeteken (156) en afgestaan (459) nie. Hul gesamentlike gemiddelde telling oor die eerste twee dae was 17-51.

Hoërskool Durbanville se linkervleuel Levandré Horne wys hakskene vir Hoërskool Marais Viljoen se verdedigers op pad na een van sy ses drieë.Foto: Frans Lombard

Dis teen die agtergrond daarvan geen verrassing nie dat die tweede dag van aksie behoort het aan ’n Kapenaar: Hoërskool Durbanville se linkervleuel Levandré Horne.

Dié vlugvoetige blits het nie minder nie as ses keer agter die doellyn gedraai in sy span se slagting met 85-8 van die Hoërskool Marais Viljoen van Alberton.

Ná net 23 minute se speeltyd het Horne reeds sy vierde drie van die dag afgerond en was sy span met 24-3 voor.

Ná die omdraaislag het die damwal behoorlik gebars. Die span van Durbanville het nog nege drieë ingeryg voordat die skeidsregter die wedstryd vroeg gestop het.

Die heelagter Khirwin Erasmus en buitesenter Iwaan Bloys het boonop elk ook twee keer die kalklyn oorgesteek, terwyl die binnesenter Duncan Steenkamp agt van sy span se drieë verdoel het vir ’n persoonlike bydrae van 16 punte.

• Grey Kollege van Bloemfontein het vir die eerste keer die seisoen die wenpad betree toe hy Hoërskool Menlopark met 51-19 kaf gedraf het.

Die Grey-loskopstut Juann Else was sy span se groot troefkaart met sy kraglopies. Die haker Juanré Breitenbach was ook twee keer agter die doellyn.

• Hoërskool Outeniqua het Helpmekaar Kollege met 41-14 gesink danksy sy driekuns-held en buitesenter Simeon Oosthuizen.

Helpies het alles in die stryd gewerp, maar kon net twee verdoelde drieë vir hul moeite wys.

• Die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) het die Hoërskool Noordheuwel sonder enige moeite met 79-7 afgeransel.

Boishaai was teen rustyd reeds met 43-0 voor terwyl die Nories se verdediging soos die Rooisee oopgemaak het.

Die Paarliete se haker, Ruben Swanepoel, en flanke Méno Barnard en Ruan Venter het elk twee keer gaan druk, terwyl die losskakel Compion von Ludwig 13 punte met die skopskoen aangeteken het voordat hy vroeg in die tweede helfte ’n blaaskans gegun is.

• Van die dag se aanskoulikste rugby is deur die Hoërskool Duineveld opgedis. Die span was veral voor rustyd soos ’n goed geoliede masjien en het die Hoër Tegniese Skool Middelburg met 39-21 afgestof.

Die stutte Hannes van Blerk (losskop) en Juan Agenba (vaskopstut) was twee van die groot uitblinkers. Van Blerk het deurgaans soos ’n lokomotief gestoom, terwyl Agenba twee keer soos ’n wafferse senter hakskene gewys het om af te rond.

Die name van die twee kantmanne in die skrum, AJ Wiese en Stefan Klindt, moet ook uitgesonder word. Dié twee vuurvreter-flanke het gereeld omgekeerde besit bewerkstellig.

• Vrydag se bepalings:

08:00: Nelspruit 2de span t. Duineveld 2de span

09:15: HTS Middelburg 2de span t. Stellenberg 2de span

10:30: Noordheuwel 2de span t. Durbanville 2de span

11:45: Marais Viljoen 2de span t. Outeniqua 2de span

13:00: Garsfontein 2de span t. Oakdale Landbou 2de span

14:15: Affies 2de span t. Welkom Gimnasium 2de span

15:30: Helpmekaar 2de span t. Paarl Gimnasium 2de span

16:45: Monument 2de span t. Hoër Jongenskool Paarl 2de span

18:00: HTS Middelburg t. Stellenberg

19:30: Garsfontein t. Oakdale Landbou.

Meer oor:  Skolerugby  |  Skolesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.