Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Liggies laat Oosies les opsê in Virsekerbeker

Die Hoërskool Lichtenburg het Saterdag die skroewe styf gedraai om die voorste plek in die Skildafdeling van die Virsekerbeker-reeks te beklee.

Die Liggies het in hul agterplaas die krane in die tweede helfte oopgedraai om die Hoërskool Oos-Moot met 34-16 te oorrompel.

Die Hoërskool Montana se skrumskakel Gerhard van Niekerk word deur twee verdedigers platgetrek tydens hul Virsekerbeker-wedstryd teen die Hoërskool Eldoraigne. Foto: Frans Lombard

Dít nadat hulle vroeg met hul rug teen die muur was nadat die Oosies ’n 13-0 voorsprong opgejaag het.

Die tuisspan het egter betyds wakker geskrik om te verseker dat die besoekers nie vir een van die verrassings van vanjaar se reeks sorg nie en teen rustyd al 17-13 voorgeloop.

Oos-Moot het ’n puik begin tot die wedstryd gehad, met veral sy binnesenter Sarel Nel wat giftig was. Nel het in die eerste helfte ’n strafdoel deur die pale gejaag, voordat hy oor die doellyn geseil het en verdoel het om sy span ’n droom-begin te gee.

Lichtenburg het egter na sowat 20 minute se spel skielik wakker geskrik met sy binnesenter Rynhardt Jahns wat gaan afrond het.

Die tuisspan se staatmaker, Stiaan Loots, wat as flank die ongewone taak het om pale toe te korrel, het geen fout met die doelskop gemaak nie.

Jahns se sentermaat, Ruben Oosthuizen, het toe sy span die geleentheid gegee om hul neuse voor te kry toe hy gaan druk het.

Loots het geen fout met die skopskoen gemaak nie en boonop ’n strafdoel kort voor rustyd ook deur die pale gejaag.

Die tweede helfte was eenrigtingverkeer. Die Liggies se haastige linkervleuel Pieter Wagner was deurlopend ’n bedreiging wanneer hy die bal gehad het en het sy span gereeld op die voorvoet gekry.

Drieë deur die vaskopstut De Wet De Villiers en die plaasvervangers JG Gentle en PC Meyer het die span van Waverley se doppie geklink.

Lichtenburg is nou in die saal op die reeks se punteleer met 27 ligapunte, terwyl die Hoërskool Middelburg op hul hakke is met 26 punte nadat hulle vir die Hoërskool Florida met 53-39 oorrompel het.

Die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen (22) lê derde, met Kempton Park (20) tans in die vierde plek.

* Die Hoërskool Montana het Saterdag sy voorste plek in die Plaatafdeling behou toe hy vir die Hoërskool Eldoraigne in ’n taai wedstryd met 24-21 die loef afgesteek het.

Met die oorwinning het die Monties ook die bordjies verhang nadat hulle in 2018 met 32-43 en in 2017 met 17-53 die knie teen die Eldo’s se Drake gebuig het.

* In die Beker-afdeling het die Hoërskool Garsfontein vir die Hoërskool Noordheuwel met 68-24 met die stert tussen die bene gelaat, terwyl die Hoërskool Monument sy segetog ook voortgesit het toe hy vir die Hoër Tegniese Skool Middelburg met 52-22 geklop het.

Die Hoërskool Dr. EG Jansen het vir ’n verrassing gesorg en sy voorneme om die uitkloprondes te haal net-net lewendig gehou toe hy vir die Hoërskool Menlopark met 29-17 verras het. Die Jansies lê in die sesde plek met 19 punte, met Waterkloof vyfde (20) en Menlopark vierde (21).

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.