Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Marioné bring bietjie vreugde vir Driehoek

Die Hoërskool Driehoek se Marioné Fourie het by die Top15-atletiekbyeenkoms verstom en haar skoolmaats, wat nog treur ná die brugtragedie, rede gegee om ’n wyle te glimlag.

Fourie het verlede week die 100 m-hekkies vir o.17-meisies by die Universiteit van Johannesburg se atletiekstadion gewen. Dít met die Afrika-Jeugspele-kampioen in dié nommer, Kayla van der Bergh van Hoërskool Klerksdorp, wat saam met haar in die blokke gesak het.

Met ’n uitstekende vertoning het die Hoërskool Driehoek se Marioné Fourie (regs) die 100 m-hekkies vir o.17-meisies in 13.82 sekondes gewen. Foto: Marius Nortjé

Fourie het in 13.82 sekondes – ’n persoonlike beste tyd –die wenstreep oorgesteek, met Van der Bergh wat naelskraap tevrede met die tweede plek moes wees in 13.83. Albei het meer as 1 000 punte op die Absa-puntetabel ingesamel.

Monument se o.15-gewigstootsensasie Cian de Villiers het weer eens lag-lag sy teenstanders ore aangesit.

Hy het die voltal van 1 200 punte behaal toe hy die rekord verpletter het met ’n afstand van 20.21 m. JP Hoffman het die rekord van 19.11 m in 2012 behaal.

Dané Roets, die Afrika-Jeugkampioen in die gewigstoot en silwermedaljewenner in die diskusgooi, het ook die rekord oortref in die gewigstoot vir o.17-meisies met ’n afstand van 16.55 m. Die vorige rekord van 16.37 m is in 2012 deur Hoërskool Kempton Park se Geraldine Duvenhage opgestel.

King Edwards VII School se Lythe Pillay, wat deel was van die uitnodigingspan en ook in 2018 die nasionale o.15-rekord in die 200 m opgestel het in 21.34, was weer op sy stukke in die o.16-wedloop. Hy het gewen in ’n nuwe byeenkomsrekord van 21.71. Hy het daarna boonop sy slag in die 400 gewys, waar hy ook op die boonste trap van die podium gestaan het danksy ’n wentyd van 47.52, ook ’n nuwe rekord.

Die Hoërskool Monument se gewigstoter Cian de Villiers het ’n rekord-afstand van 20.21 m in die o.15-afdeling behaal. Foto: Marius Nortjé

Jason Bowers van Vereeniging Gimnasium het sy eerste van twee rekords in die 1500 by twee verskillende byeenkomste by UJ behaal. Hy het in 4 minute, 2.84 sekondes geseëvier. Hy het twee dae later by Florida se Prestige-byeenkoms weer só gemaak.

Sy skoolmaat Shikira Gebhardt het uitgeblink in die driesprong vir o.16-meisies met ’n nuwe rekord van 10.94 m.

Deacon du Preez van Menlopark was een van vier atlete wat ’n voltal aan punte in die o.15-diskus ingesamel het. Hy het gewen met ’n afstand van 62.81 m, met De Villiers tweede met 59.49 m.

Wesvalia het ook sy talent ten toon gestel toe Jeané Visser koning gekraai het in die o.16-meisies hoogspring met ’n nuwe rekord van 1.72 m.

Overvaal se Welré Olivier het die o.17-driesprongrekord tot 14.65 m verbeter.

* Die Hoërskool Menlopark se atlete het hul diepte gewys en hul titel as die byeenkoms se kampioene in die kompetisie vir Grootskole verdedig met ’n gemiddeld van 1 065 punte.

* Hoërskool Randburg het die kompetisie vir Kleinskole gewen met ’n gemiddeld van 973 punte.

Meer oor:  Hoërskool Driehoek  |  Marioné Fourie  |  Skoleatletiek  |  Top15
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.