Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Matfield brei skolespan vir Paarl-toernooi

Drie oud-Springbokke sal help om een van die uitnodigingspanne te brei wat volgende maand aan die Wêreld-skolerugbyfees by die Hoër Jongenskool Paarl gaan deelneem.

Victor Matfield, Jaco van der Westhuyzen en Cornal Hendricks gaan hand bysit om die Africa Pacific Dragons-uitnodigingspan slaggereed te maak vir die fees, met twee moeilike kragmetings wat op die span wag.

Victor Matfield sal die Africa Pacific Dragons help brei vir die Wêreld-skolerugbyfees wat in April in die Paarl gehou word. Foto: Gallo Images

Die span sal bestaan uit spelers van minder bevoorregte skole in Suid-Afrika, asook skolespelers van Fidji, Samoa en Tonga.

Tonga se Hale T-Pole en Samoa se Junior Poluleuligaga sal ook as mentors vir die span optree.

Dié gekombineerde span sal op Woensdag 4 April teen Hilton College van KwaZulu-Natal kragte meet, voordat die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) van Pretoria in sy pad sal staan.

Volgens Matfield sal die span ’n soortgelyke benadering as die Barbarians-rugbyspan hê, weens die beperkte tyd wat hulle het om hulle op die toernooi voor te berei.

“Die belangrikste ding is om ’n spangees te skep. Die ouens moet vir mekaar wil speel,” het Matfield gesê.

“As jy na spelers van die Suidsee-eilande kyk, het jy ouens wat met heelwat flair speel, so ons sal dit by die wedstrydplan moet inwerk.”

“Ons sal ’n grondslag lê in die sleutelareas, maar daarna moet ons hulle toelaat om hulself op die veld uit te leef.”

Van der Westhuyzen het Matfield se stellings beaam en meen ook dat die span nie sal skroom om die bal rond te slinger nie.

Dié benadering sal in kontras wees met Hilton en Affies, wat tradisioneel met ’n vaste struktuur speel.

Affies sal oudergewoonte weer ’n gedugte groep voorspelers hê, met die agterlyn wat sal uitsien daarna om te baljaar indien hulle goeie balbesit kry.

Die toernooi is die geesteskind van Boishaai se breier, Sean Erasmus, en het heelwat belangstelling gelok toe die gewese Bok-breier Heyneke Meyer daarby betrokke geraak het.

Erasmus, wat Boishaai aan die einde van die seisoen verlaat en hom by die Leeus gaan aansluit, sal hoop dat dié toernooi ’n instelling word op die rugbykalender en deel sal wees van sy nalatenskap.

Met Erasmus aan die stuur, het Boishaai die afgelope drie seisoene slegs een keer – in 2017 teen Christchurch Boys’ High School in Nieu-Seeland – vasgeval.

Kaartjies vir die rugbyfees is by Computicket beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.