Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Menlo skryf perfekte einde tot sprokie

Die Hoërskool Menlopark het Saterdag ’n droomeinde tot sy 2019-skolerugbyseisoen geskryf deur vir die eerste keer nog die Virsekerbeker-trofee omhoog te hou.

Die Parkies het in die tweede helfte vlamgevat in die eindstryd van Afdeling 1 se Beker-kompetisie en vir Helpmekaar Kollege van Johannesburg met 44-17 ore aangesit.

Pure vreugde! Ruan Ooshuizen van die Hoërskool Menlopark loop op wolke en druk sy span se laaste drie in die Virsekerbeker-eindstryd. Foto: Riaan de Bruyn

Dit was die eerste keer sedert Menlopark se stigting in 1963 dat hy in dié Noordvaal-reeks, wat voorheen as die Beeld-trofee, Direkteurstrofee en Administrateurs-beker bekend gestaan het, die eindstryd kon beklink.

Vir Dean van der Watt se span het alles eenvoudig reg verloop.

Die Parkies het drie weke gelede by die agterdeur van die halfeindronde ingeglip toe hy met ’n eerste oorwinning teen die Hoërskool Monument in die laaste ligawedstryd die rekordboeke herskryf het. Die Parkies was toe met 22-15 baas en het vierde op die punteleer geëindig, met Monnas tweede.

’n Week later moes hy die Hoërskool Garsfontein, wat die voorste plek beklee het, in die halfeindstryd pak. Hoewel die Garsies se Bere moes klaarkom sonder vyf spelers wat hulle by die nasionale skolespanne aangemeld het, het die Parkies steeds opgedaag en hulle met 72-40 gestraf – die eerste keer sedert 2011 dat hy teen Garsfontein kon wen.

En toe wag die Helpies op hom.

Die eindstryd was beslis ’n verhaal van twee helftes.

Die Helpies het binne minute met 12-0 voorgeloop nadat sy binnesenter, Divan Esterhuizen, en linkervleuel, Christiaan Bezuidenhout, gaan druk het.

Kaptein fantasties! Die Hoërskool Menlopark se Lohan Potgieter het sy span met groot sukses tot hul eerste Virsekerbeker-titel nog gelei. Foto: Frans Lombard

Die Parkies se Ruan Oosthuizen het teruggeslaan met ’n drie van sy eie om die telling 12-5 te maak voordat Bezuidenhout die Helpies se derde gaan druk het.

Nie eens die hop van die bal wou in die Parkies se guns val nie, met Helpmekaar wat hul sterte in die lug gehad het.

’n Breekslag deur die Parkies se heelagter, Niel Beukes, wat vir die kaptein, Lohan Potgieter, weggestuur het, het die Pretorianers verbete laat vasklou teen rustyd met Helpmekaar wat ’n 17-10 voorsprong geniet het.

Daarna het die Parkies van die tweede rat oor na die sesde oorgeskakel.

Eers het die losskakel, Marcell Deysel, ’n strafskop deur die pale gejaag voordat Beukes teen die verloop van spel gaan druk het. Die skrumskakel, Keanon Wessels, het verdoel en skielik was die Parkies met 20-17 voor.

Die Helpies se lyftaal het boekdele gespreek en die Parkies het met nog drie uitstekende drieë die sout verder in die wonde gevryf.

Die regtervleuel, Ulrich Wiese, wat heeldag gedreig het om amok te maak met sy kraglopies, het twee keer daarna agter die doellyn gaan draai voordat Oosthuizen in ’n oomblik van individuele briljantheid finaal die wind uit die Helpies se seile gehaal het.

Vir die Helpies was dié een ’n bitter pil nadat hy verlede jaar ook in die eindstryd deur Monnas met 57-11 verslaan is, maar in Pretoria sal die vreugdevure nog lank brand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.