Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Menlopark herskryf geskiedenis

Die Hoërskool Menlopark se eerste rugbyspan het sekerlik een van hul beste vertonings in jare gelewer om Saterdag vir die eerste keer tot dusver met die Hoërskool Monument van Krugersdorp klaar te speel.

Die Pretorianers het alles in die stryd gewerp om met 22-15 as oorwinnaars van die veld te stap in die twee skole se Virsekerbeker-kragmeting.

Vir die span se breier, Dean van der Watt, was dit ’n sege om te koester.

Dit volg nadat die Parkies in April met 30-8 deur Monnas se Wit Bulle verslaan is.

Die Hoërskool Menlopark se heelagter Niel Beukes glip deur die hande van die Hoërskool Monument se slot Tiaan de Klerk tydens die spanne se Virsekerbeker-stryd. Foto: Marius Nortjé

“Dit was ’n uitstekende wedstryd deur albei spanne,” het ’n beskeie Van der Watt by navraag gesê.

Die Parkies het verlede jaar in twee opwindende stryde die knie teen Monnas gebuig. Een hiervan was ’n naelskraapse doodsnik-nederlaag in die eindronde van die Tuks Skolereeks toe hulle gemaklik voor was, net om eindelik met 36-38 die knie te buig.

Hulle was voor Saterdag se wedstryd in ’n stryd om oorlewing, maar het egter gewys dat hulle diep kan delf sou die situasie dit vereis.

Die span moes die wedstryd wen om ’n plek in die halfeindronde van die Virsekerbeker-reeks se Beker-afdeling vas te maak.

Die Parkies het soos tiere verdedig en dinge ook moeilik vir Monnas gemaak by die afbreekpunte.

“Ek dink ons lostrio van Tiaan Lange, Lohan Potgieter en Jurgen van Zyl was eindelik die grootste verskil tussen die twee spanne. Hulle het baie goed gespeel.”

Die binnesenter Ruan Oosthuizen, die haker Enrique Coutriers en die regtervleuel Ulrich Wiese het almal vir die span agter die doellyn gaan draai, terwyl die heelagter Niel Beukes se skopskoen die res van die praatwerk gedoen het.

Met die beseringspook wat deurlopend vanjaar aan die Pretorianers se deur gaan klop het, is die span nou weer besig om sy ritme te vind.

“Die seisoen het tot dusver moeilik vir ons verloop met veral beserings in sleutelposisies wat ons duur te staan gekom het. Gelukkig is die meeste van die ouens nou besig om terug te keer en ons het nou sowat 90% van ons eerstekeusespan wat weer fiks is.”

Hulle het verlede naweek met 17-29 teen die Hoërskool Dr. EG Jansen vasgeval, voordat hulle die gety geswaai het teen Monnas.

“Verlede naweek kon ons net nie vlam vat nie en die span is boonop ontwrig toe albei ons slotte moes onttrek.”

Nou wag die Hoërskool Garsfontein komende naweek op hulle in die halfeindronde.

“Die naweek se wedstryd teen Garsfontein gaan taai wees. Net soos hulle is ons spelers ook geneig om beter te speel as die spel ietwat losser raak,” meen Van der Watt.

Die Garsies se Bere het vroeër vanjaar die Parkies met 46-28 omgedop en Van der Watt se span sal dié slag ook die bordjies wil verhang.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.