Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Menlopark sorg vir nóg ’n skokgolf

Die Hoërskool Menlopark het vriend en vyand verras toe hy Saterdag vir die tweede agtereenvolgende week ’n opskudding veroorsaak het met sy 72-40-vertrapping van die Hoërskool Garsfontein in die halfeindstryd van die Virsekerbeker-reeks se Beker-afdeling.

Ernst Simon van Menlopark ryg een van sy span se drieë in teen die Hoërskool Garsfontein. Foto: Frans Lombard

Die besoekers, wat verlede week hul eerste oorwinning oor die Hoërskool Monument behaal het om net-net by die agterdeur van die uitspeelrondes in te glip, het die week weer ’n stukkie tot hul geskiedenis bygedra met ’n eerste oorwinning sedert 2011 oor die Garsies se Bere.

Die Parkies het nie minder nie as 11 keer agter die doellyn gaan draai met sy heelagter Niel Beukes wat vuurwarm was vanuit die laaste vesting.

Hy het twee keer vir sy span oor die doellyn geseil en boonop 12 punte met die skopskoen aangeteken om eindelik 22 punte vir sy span by te dra.

Buiten Beukes het die binnesenter, Ruan Oosthuizen, wat vir die tweede agtereenvolgende week ’n brekervertoning gelewer het, en die vleuel Ulrich Wiese albei ook twee keer agter die tuisspan se doellyn gedraai.

Vir die Garsies sal dié nederlaag nog lank pla. Die Bere moes sonder vyf van sy spelers klaarkom wat vir die nasionale skolespanne nader getrek is. Hulle is sleutelspelers Zeilinga Strydom (heelagter), Geraldo Flusk (vleuel), Jurich Claassens (skrumskakel), Raynard Roets (slot) en Gerhard van der Merwe (vaskopstut).

In Claassens, wat verlede jaar reeds vir die Suid-Afrikaanse Skolespan diens gedoen het, se afwesigheid het die Parkies se Keanan Wessels agter die oond die toutjies getrek en verseker dat sy agterlyn kon baljaar.

In die oond het die slotpaar van Ernst Simon en Theo Daily ook uitgeblink.

Die Parkies is besig om ’n merkwaardige ommekeer te beleef en kan moontlik die naweek ’n droomeinde tot hul seisoen bring indien hulle in die eindstryd as oorwinnaars van die veld stap.

Hulle het in die ligawedstryde met 28-46 teen die Garsies vasgeval, voordat hulle die bordjies deeglik verhang het.

Die Parkies het nog nooit in die Virsekerbeker-reeks, wat voorheen as die Beeld-trofee, Direkteurs-trofee en Administrateursbeker bekend gestaan het, koning kraai nie.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), wat ná 2006 se Beeld-trofee-eindstryd uit alle reekse onttrek het, spog steeds met die meeste titels nadat hy 18 keer die kampioen was.

Die Parkies het in 1991 laas gesig in die destydse eindstryd van die Direkteurstrofee gewys, maar moes die knie op daardie dag met 10-18 voor die Hoër Tegniese Skool Middelburg buig.

Kan die Parkies komende naweek in die eindstryd, wat op die Hoërskool Marais Viljoen se velde beslis word, teen die Helpmekaar Kollege ’n nuwe bladsy tot hul geskiedenisboeke byvoeg? Net die tyd sal leer.

Meer oor:  Skolerugby  |  Virsekerbeker  |  Menlopark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.