Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Middelburg troef Woeries net-net

’n Drie deur die Hoërskool Middelburg se agtsteman Rowan Skosana het sy span gehelp om die Hoërskool Centurion net-net met 28-15 in die spanne se Skild-afdeling van die Virsekerbeker te troef.

Die Hoërskool Middelburg se woelige skrumskakel Sanele Zungu het die Hoërskool Centurion se verdedigers gereeld aan die raai gehou.Foto: Craig Gissing

Die kragmeting was van meet af ’n wipplankstryd met nie een van die spanne wat teruggehou het nie.

Net sodra die een span sy neus voor gekry het, het die ander teruggeslaan en die toeskouers en ondersteuners op die punte van hul stoele gehou.

Waar Centurion se Woeries die oorhand voorlangs gehad het, was dit uiteindelik die giftige agterlyn van Middelburg wat die twee spanne van mekaar onderskei het.

Middelburg se skrumskakel, Sanele Zungu, het die oog getref met sy dartellopies en vermoë om die agterlyn aan die gang te hou.

Hy het sy drie verlede week teen die Hoërskool Oos-Moot opgevolg deur weer onder die puntemakers te tel, terwyl die linkervleuel Teboho Mosia ook ’n doring in die vlees van die Woeries was.

In Waverley in Pretoria was die naels ook afgekou toe die Hoër Volkskool Heidelberg in die doodsnikke die Hoërskool Oos-Moot se harte met 39-37 gebreek het.

Dit kom nadat die span van Heidelberg verlede naweek die louere van 25-25 met die Hoërskool Florida moes deel.

Florida moes self sweet om vir die Hoërskool Jeugland met 35-34 te klop.

In die Plaat-afdeling is sake nog wawyd oop met die Hoërskool Montana wat die Hoërskool Nelspruit die naweek met 39-8 verras het.

Die telling kon nog groter gewees het, was dit nie vir die skopskoen wat gelol het nie met Montana wat net twee van hul sewe drieë kon verdoel.

Die Monties se Stefan Tolmay was ’n gifangel met die bal in die hand en het twee keer vir sy span gaan druk, terwyl Nathan Mattheus, Eduan Coetzee, Jooste Nel, Niel de Villiers en Franco Stassen ook gaan druk het.

Die Hoërskool Eldoraigne het vyf keer die doellyn oorgesteek om vir Hoërskool Kempton Park met 33-29 af te weer, terwyl Rustenburg in ’n verwoestende bui teen die Hoërskool Zwartkop was.

Rustenburg het 11 drieë ingeryg om met 71-27 die pyp te rook. Bryan du Plessis en Tristan du Preez het albei twee keer afgerond.

Die Hoërskool Marais Viljoen het die aftog geblaas met 26-30 teen die Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen.

* Beeld het op 21 Mei berig dat Eloraigne sy sewende agtereenvolgende sege oor Zwartkop behaal het. Zwartkop was egter in 2016 in een van die spanne se twee kragmetings baas. Eldo’s het op 18 Mei dus hul vierde agtereenvolgende sege oor die Zwarries behaal.

Meer oor:  Skolerugby  |  Middelburg  |  Virsekerbeker  |  Skolesport  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.