Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Montana kraai koning in sewestoernooi

Die Hoërskool Montana het Saterdag skoonskip gemaak om as kampioen gekroon te word by die Hoërskool Eldoraigne se jaarlikse sewesrugbytoernooi.

Nathan Mattheus van die Hoërskool Montana op pad doellyn toe by Eldoraigne se sewestoernooi. Foto: Frans Lombard

Montana se o.17 span het merkwaardig herstel nadat hy verlede naweek by die Blou Bulle se sewestoernooi, wat op sy tuisveld gehou is, teleurgestel het.

Monties het nie ’n enkele keer die knie gebuig nie en in die eindstryd die verrassingspakket, ’n uitnodigingspan, net-net met 21-19 geklop om as die kampioene gekroon te word.

Hulle het Vrydag met Oos-Moot (12-10), Pretoria Boys High School (26-7) en die Hoër Tegniese Skool John Vorster (24-12) ore aangesit om bo in hul groep te eindig, voordat die goeie peil Saterdag voortgesit is.

Hulle het Pretoria Technical High School (26-12) geklop om ’n plek in die eindronde vas te maak.

Die uitnodigingspan, wat saamgestel is uit spelers van onder meer Affies, Waterkloof en Overkruin het net in die eindstryd die knie gebuig.

Hulle het Helpmekaar (42-19), Tuine (29-12) en Menlopark (35-7) op die eerste dag getroef, voordat hulle op die tweede dag vir Eldoraigne (38-17) laat les opsê het.

Menlopark moes met die derde plek tevrede wees nadat hy Boys High met 33-7 geklop het. Parkies het op die eerste dag Eldoraigne (24-10) en Tuine (45-7) geklop.

Helpmekaar het harde bene gekou en eindelik vyfde geëindig met ’n sege met 26-21 oor Oos-Moot.

* Die Hoërskool Tuine hoort oor die vingers getik te word nadat hy op die eerste dag teen Menlopark, die uitnodigingspan en Eldoraigne (0-29) vasgeval het en nie vir die tweede dag opgedaag het nie, met die organiseerders wat noodgedwonge die bepalings moes aanpas om seker te maak die res van die spanne kon wel almal steeds speel.

Dit het eindelik beteken dat Pretoria Technical High School niks meer as 15 minute rus gehad het tussen twee van hul wedstryde nie.

* In die o.15-toernooi het Menlopark herstel nadat hy verlede week deur Affies geslag is en soos ’n goed geoliede masjien gespeel om sy afdeling te wen met ’n wegholsege met 55-5 oor Zwartkop.

Parkies het Montana (29-0), Pretoria Boys High (36-5) en Overkruin (48-5) ook platgevee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.