Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Skole
Ouderdom-skandaal ruk skolerugby

Skolerugby is Woensdag geruk deur ’n skandaal nadat twee o.14-rugbyspelers, wat vroeër vanjaar van Durban High School (DHS) na Glenwood High School geskuif het, as onderskeidelik ’n 17- en 18-jarige blootgelê is.

Albei dié spelers, wie se name aan Netwerk24 bekend is, was in 2019 deel van die Haaie se seëvierende o.13-Cravenweekspan, wat die Westelike Provinsie in die nie-amptelike eindstryd met 26-24 geklop het. Dit was die Streeptruie se eerste nederlaag in die hoofwedstryd (op die laaste dag van die toernooi) in sewe jaar.

Siyabonga Tom het Glenwood High School in 2011 as 21-jarige verteenwoordig. Hier was hy in aksie vir die Haaie by die o.18-Cravenweek-toernooi, wat destyds in Kimberley gehou is. Foto: Gallo Images

Die betrokke twee spelers was verlede jaar en in 2018 in Glenwood Preparatory School (Glenwood Prep) op skool en was lid van ’n span wat al sy teenstanders oorrompel het.

“Met behulp van Glenwood High School is dit bevestig dat Glenwood Preparatory School in 2018 en 2019 onwetend twee spelers op die veld gestuur het wat ouer as hul ouderdomsgroep was,” het Noël Ingle, hoof van Glenwood Prep en ook voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skolerugbyvereniging (Sasra), luidens ’n verklaring gesê.

“Ek vra alle spelers, ouers, beamptes en toeskouers van ons skool en die skole waarteen ons meegeding het om verskoning.”

Ingle sê dat hulle in 2018 twee leerlinge in gr. 6 in die skool toegelaat het wat die skool van dokumente voorsien het wat eg voorgekom het.

“Die dokumente is noukeurig ondersoek en alles het daarop gedui dat dit eg is,” sê Ingle.

Die twee spelers het egter dokumentasie gebruik wat aan twee jonger seuns behoort het.

“As deel van die proses het ons die KwaZulu-Natalse Rugbyunie ingelig, wat in beheer is van rugby in die provinsie. Hulle het intussen hul eie ondersoek begin en sal ook na ons bevindinge kyk. Alle partye werk saam om ’n oplossing vir die kwessie te vind.”

Glenwood High School het glo onraad vermoed nadat bedenkinge oor die kinders se ouderdomme geopper is.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat die seuns vir beendigtheidstoetse gestuur is, wat op hul werklike ouderdomme gedui het. Die seuns het daarna glo die uitslae van die toetse bevestig toe hulle erken het dat hulle inderdaad ouer is.

Die DHS-bestuurspan is van mening dat die verhouding en vertroue tussen die twee skole in só ’n mate versleg het dat sportbyeenkomste tussen die twee skole nie meer in die beste belang van die twee instellings is nie.

Dis nie die eerste keer dat DHS en Glenwood High in ’n ouderdomskandaal betrokke is nie.

Siyabonga Tom het in 2011 as 21-jarige vir Glenwood se Green Machine en die Haaie se o.18-Cravenweekspan, sowel as die Suid-Afrikaanse Skolespan uitgedraf.

Mbembe Payi het dieselfde jaar weer vir DHS as 22-jarige verteenwoordig. Nadat Payi uitgevang is, is ’n oudit gedoen op alle KwaZulu-Natalse rugbyspelers op o.16- en eerstespanvlak. Payi het later die Oostelike Provinsie op senior vlak verteenwoordig.

Die twee skole is tradisionele aartsvyande wat jaarliks ’n interskolesportdag teen mekaar het. Dit is die oudste skolerugby-derby in Durban, met die eerste stryd wat reeds in 1925 beslis is.

Paul Spooner, hoof van DHS se beheerliggaam, het verlede maand in ’n verklaring gesê dat die derby vir die voorsienbare toekoms gestaak is.

“Die DHS-bestuurspan is van mening dat die verhouding en vertroue tussen die twee skole in só ’n mate versleg het dat sportbyeenkomste tussen die twee skole nie meer in die beste belang van die twee instellings en ook nie in die belang van die huidige en toekomstige leerlinge van DHS is nie.”

Dít het gevolg nadat drie seuns – wat die twee seuns midde-in die jongste ouderdomskandaal insluit – met sportbeurse van DHS aan Glenwood Prep skoolgegaan het, maar ná slegs enkele dae in gr. 8 by DHS na Glenwood High School geskuif het.

Glenwood High het nog nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Cravenweek  |  Skolerugby  |  Glenwood High School
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.